Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 7

God en die groter prentjie

Оглавление

Om gereeld dankie te sê en die gevoel van dankbaarheid in ons binneste te beleef, speel ’n groot rol in hoe ons die lewe ervaar. Dit het ’n reg­streekse invloed op hoe ons na die lewe kyk en hoe ons oor God dink.

Ironies genoeg maak dankbaarheid ons daarvan bewus dat alles van verbygaande aard is. Dat seisoene kom en gaan en dat vreugdes en feeste eindig, en dat verdriet en verlies ook nie vir altyd die laaste sê sal hê nie. Dankbaarheid help jou veral om in moeilike omstandighede nie so te fokus op alles wat verkeerd en sleg is nie. Dit kweek in jou ’n ingesteld­heid wat gerig is op dit wat groter is as jy en jou situasie.

Kortom: Dankbaarheid maak ons meer bewus van God se hand in ons lewe.

Om in moeilike omstandighede dankie te sê, is natuurlik nie iets wat spontaan gebeur nie. Daarom is dit nodig om die Bybelse aansporings om dankbaar te wees gedurig in ons hart te dra. Dit sal ons help om in die donker tye, daardie dae wanneer ons omgekrap en onvergenoegd is, te kan onthou wat die Here van ons verwag. Ook sodat ons deur ons dankbaarheid sy heerskappy in ons lewe kan raaksien.

Hier is Bybelverse waaraan ons onsself gereeld kan her­inner:

“Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar …” (Kol 4:2).

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18).

“Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil …” (Heb 12:28).

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:6).

Here, dankie dat U oor die hele aarde heers. Heers ook in my hart en my lewe.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх