Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 21

’n Dankgebed

Оглавление

“Elke oomblik dra in hom die geleentheid om dankbaar te wees. Daar is in elke situasie die potensiaal om diep vreugde te beleef.”

Só skryf Ann Voskamp, ’n Amerikaanse ma en skrywer van die boek One thousand gifts.

Sy vertel van die woord wat ’n hele wêreld vir haar oopgebreek het – eucharisteo. Dit word só in Lukas 22:19 gebruik: “Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.’”

Eucharisteo is daardie dankgebed van Jesus, sy dankie-sê.

Hierdie Griekse woord druk dus dank uit, en met ’n oneindige diepte. Die wortel is charis, wat “genade” beteken. Of ’n geskenk, iets wat jy ontvang. En charis is van chara afgelei, wat “vreugde” beteken.

Is dit nie maar waarna ons almal op soek is nie? Vreugde in hierdie lewe. ’n Heilige blydskap as bevestiging dat ons die lewe het, en dit in oorvloed?

Die sleutel tot die lewe, het Ann Voskamp ontdek, is eucharisteo, charis, chara. Danksegging, genade, vreugde. Deur danksegging ken ons genade en lewensvreugde, beleef ons ’n heilige blydskap.

Sy haal hieroor ook die befaamde Albert Schweitzer aan: “The greatest thing is to give thanks for everything. He who has learned this, knows what it means to live … He has penetrated the whole mystery of life: giving thanks for everything.”

Maar kán ’n mens regtig vir álles dankie sê?

Dankie vir ’n siek kind? Dankie vir beledigings, vir slaggate in die pad?

Kan ’n mens dankie sê vir korrupte leiers en oneerlike sakemense? Dankie vir te min geld, te veel werk?

Ja, jy kan, het Ann Voskamp vasgestel. Ja, jy kan regtig vir alles dankie sê en op elke oomblik en in elke situasie dankbaar wees. Dit is die sleutel tot lewensvreugde. Dan werk dit só: Genade – ontvang dit. Vreugde – beleef dit. Dank – kies dit.

Here Jesus, ek bid dat U my ook sal leer oor “eucharisteo”, ’n lewe van danksegging.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх