Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 19

Dankie! sê jou brein

Оглавление

Daar is wetenskaplikes1 wat hulle op navorsing oor dankbaarheid toe­spits. Hulle het onder meer bevind dat wanneer jy met waardering aan iemand of iets dink, of wanneer jy uit dankbaarheid iets doen, daar iets baie besonders in jou brein gebeur: Die voorste gedeelte van die brein se buitenste laag skei die sogenaamde goedvoel-hormone af, te wete dopamien en serotonien.

Dit wil sê: Of jy nou jou “dankies” dink of jou “dankies” doen, dit het dieselfde gevolg.

Dopamien, sê die kundiges, kan depressiewe gevoelens verlig en het tot gevolg dat jy oor die algemeen minder pyne en skete het. Dit kan jou motiveer om te oefen en jou help om beter te slaap.

Navorsing het ook bevind dat ’n dankbaarheidsgevoel aktiwiteit in die hipotalamus meebring wat ’n hele reeks liggaamlike funksies beïnvloed, insluitend eet, drink en slaap. Dit het ook ’n positiewe uitwerking op jou metabolisme, en kan selfs die neiging om te eet ten einde beter oor jouself te voel, teenwerk.

Méér: Die brein het die interessante manier om jou gedagtepatrone met verloop van tyd in gewoontepatrone om te skakel.

Bogenoemde wetenskaplikes verduidelik dat enigiets wat ’n versla­wing of ’n gewoonte is, of ’n outomatiese gedragspatroon – soos om ’n motor te bestuur sonder om aan die detail daarvan te dink – ’n sirkel­gang tussen ’n klompie breinselle tot gevolg het. Rondom hierdie “baan” breinsel-konneksies word ’n proteïen afgeskei wat sorg dat die gewoonte of verslawing stewiger vasgelê word.

As jy gereeld dankbaar is omdat jy ingestel is op die raaksien en waar­dering van alles wat goed en mooi is, vorm daar ook so ’n sirkelgang. Jou brein skoffel dus ’n soort voetpaadjie oop, dit vorm ’n ingesteldheid om dankbaar te wees.

Dit alles werk mee aan ’n positiewe uitwerking op jou gesondheid, jou lewensvreugde en jou algemene welsyn.

Here, dankie dat U my wonderbaarlik geskep het. Help my om U met liggaam en siel te loof.

1.Dr Robert Emmons en dr Michael McCullough

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх