Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 12

In Jesus

Оглавление

In Kolossense 2 lees ons hoe Paulus Christene aanmoedig om in Jesus gegrond en op Hom gebou te wees. Die Jesus in wie al die verborge skatte van wysheid en kennis en geestelike insig te vind is.

Paulus moedig die gelowiges ook aan om vas te staan in die geloof. Om nie deur mense se geestelike gedagtes of inspirerende preke meege­voer te word nie, maar om in Christus se waarheid vas te staan.

Dít alles, sê hy, moet ons doen terwyl die danksegging in ons oor­vloedig is (vgl. Kol 2:7).

Die grond waarin ’n plant staan, bepaal hoe groot en sterk daardie plant sal word. Die fondament waarop ’n huis gebou is, bepaal hoe hoog daar­die huis kan wees. Dít waarin jy gewortel is, verklap hoe jou geestelike groei sal verloop. Dit vertel ook watter soort vrugte jy sal dra.

Jesus self is die grond waarin ons geplant is. Geloof laat ons wortel­stelsel, wat in Hom geanker is, dieper en sterker groei. Hy help ons om die winde van dwaalleer en misleiding te weerstaan. Omdat ons aan Hom verbind is, help Hy ons om volledig aan Hom deel te hê, Hy wat die volle wese van God beliggaam (vgl. Kol 2:9).

Wanneer ons in Jesus gewortel is en vanuit Hom opgebou word, laat groei Hy ons om uiteindelik oorvloedig in ons dankbaarheid te wees.

Daarom is dankbaarheid nooit ’n doel op sigself nie. Christus is ons enigste doel. Wanneer ons in Hom geplant is, bring dit dankbaarheids­vrugte in ons voort.

Here, help my om te groei in my geloof in U. Moenie dat ek ooit los raak van U nie.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх