Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 13

Dankbaarheid maak deure oop

Оглавление

Jesus leer ons soms dinge wat aanvanklik klink asof dit op ’n groot teen­strydigheid berus. Sterf om te kan lewe; min wees om belangrik te word; om jou vyande lief te hê …

En op minstens twee plekke in die Evangelies lees ons hoe Hy in sy desperaatheid nie smeek nie, ook nie om hulp roep nie. Hoe Hy eerder dankie sê.

Ons lees in Lukas 11 oor Lasarus, die broer van Marta en Maria; mense vir wie Jesus baie lief was. Lasarus het baie siek geword, en gesterf. Jesus het nie dadelik na hom en sy mense toe gegaan nie, en die twee susters het Hom daaroor verwyt.

Toe Jesus uiteindelik in Betanië by Lasarus se graf kom, het Hy saam met hulle gehuil oor die man wat al vier dae lank dood was. Ons lees hoe Jesus beveel dat die klip voor Lasarus se graf weggerol word.

Dan sê Hy: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het” (Luk 11:41). So konfronteer Jesus hierdie hartseer, hopelose situasie met ’n hart vol dankbaarheid.

Lasarus staan toe uit die dood op, en die omstanders kry die ge­leentheid om die openbaring van God se mag te sien en tot geloof te kom.

In Lukas 22 lees ons oor Jesus se laaste oomblikke op aarde. Dit was ’n angsvolle tyd, ook omdat Hy geweet het wat vir Hom voorlê.

Vir oulaas eet Hy en sy dissipels saam. Hy deel brood en wyn uit, en dank God.

Voordat Hy gekruisig is en die hele wêreld sodoende in die reddende, verlossende, liefdevolle teenwoordigheid van God ingetrek is, het Jesus ’n dankgebed gedoen.

Laat ons dus vashou aan hierdie teenstrydigheid wat Jesus se optrede ons leer: om in desperate, hoop-lose oomblikke nie net te smeek en om hulp te roep nie. Maar ook dankie te sê.

Jesus, dankie dat U ons oor dankbaarheid in swaar tye leer. En oor hoe dit dikwels op ’n wonderwerk uitloop.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх