Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 15

Om vriendelik te wees

Оглавление

Dis nie so maklik om in vrede met almal te leef nie. Dit het ons almal al op die een of ander stadium uitgevind.

Paulus beveel die gemeente in Kolosse om in vrede te leef. Dan vra hy dit boonop van álle gelowiges as hy skryf: “God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe” (Kol 3:15).

Hy noem voorts dat Jesus se vrede ’n deurslaggewende rol in ons lewe moet speel. Dit beteken dat ons die uitnodiging aanvaar om ons met Christus te versoen. En dat die harmonie en vrede wat ons in ons eenheid met Christus ervaar, die deurslag in al ons verhoudings sal gee.

Paulus doen darem ’n baie praktiese voorstel aan die hand, eintlik net een klein sinnetjie om die veeleisende leef-in-vrede-opdrag meer haalbaar te maak. “Wees altyd dankbaar,” skryf hy. Dít blyk dan die sleutel te wees om die vrede waaroor hy skryf uit te leef.

Oor hierdie vredesopdrag het Johannes Calvyn inspirerende kommen­taar gelewer. Hy skryf onder meer: “As dankbaarheid en erkentlikheid van ons gedagtes besit neem, sal ons sonder twyfel daarop ingestel wees om wedersydse omgee vir mekaar te koester” (vgl. Calvin’s Complete Commentaries, bl 448).

Die ou kerkvader help ons ook verder: “As Paulus ons beveel om dankbaar te wees, glo ek nie hy bedoel dat ons ander se gunste aan ons in herinnering moet roep nie. Maar dat dankbaarheid in hierdie geval beteken om vriendelik teenoor mekaar te wees.”

Dit is dié soort dankbare vriendelikheid, saam met ons eenheid met Christus, wat ons help om in vrede met ander te leef.

Here, help my om my eenheid met U te versterk, en om ander met liefdevolle vriendelikheid te behandel.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх