Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 24

Niks om op te roem nie

Оглавление

Nederigheid is een van daardie enigmatiese karaktertrekke: Dis om min van jouself te dink, maar tog nie minderwaardig te voel nie. Dis om ander hoog te ag, maar ook nie hul vloerlap te wees nie. Dis om nie trots te wees nie, maar steeds met sekerheid te weet dat jy ’n geliefde kind van God is.

Nederigheid huisves een van die groot paradokse: Die oomblik wat jy op jou nederigheid fokus, is jy nie meer so nederig nie …

Dalk moet ’n mens dit só verwoord: Nee, dis nie om minder van jouself te dink nie. Ja, dis om minder aan jouself te dink.

Ons wat graag soos Jesus wil leef en wat al hoe meer tot die beeld van Christus gevorm wil word, ons begeer ’n nederige hart. Ons wat die vrug van die Gees in ons lewe wil hê, wil ook nederigheid as een van ons eienskappe hê.

Miskien is nederigheid so uitsonderlik omdat dit in wisselwerking met ander gesindhede en aksies optree. Dit het veral ’n noue verband met dankbaarheid.

Dankbaarheid skep vir ons die geleentheid om ons afhanklikheid van God raak te sien. Dit maak nederigheid dikwels die enigste opsie, omdat nederigheid trots op sy plek sit, eiewaan se nek omdraai en self­ge­sen­treerd­heid in sy spore stuit.

Boonop hoef ons nie juis diep oor nederigheid te dink nie; ons fokus bloot op dankbaarheid. In elke oomblik en elke situasie neem ons ’n dankie-sê-houding in. Dis hiéruit wat nederigheid sal voortkom.

’n Lewe vol dankbaarheid weet hoe afhanklik ons van Jesus se redding is en hoe groot die verlossing is wat Jesus aan die kruis vir ons bewerkstellig het. Wanneer ons die lewegewende uitwerking van Jesus se liefde smaak, kan ons nie anders nie as om in dankbaarheid daarop te reageer.

En in die dankbaarheid oor Jesus se gehoorsaamheid aan die kruis, leer ons hoe nederigheid werk. Nou weet ons dat niemand sonder Jesus se redding kan leef nie. Dat niemand goed genoeg is om foutloos te lewe of om self vergifnis vir sonde te bewerkstellig nie.

Dit laat ’n nuwe dankbaarheid in ons ontvlam, omdat ons weet hoe afhanklik ons van God se genade is. Ons sien God se liefde daarin raak, en ons weet dat ons niks in onsself het om op te roem nie.

Here Jesus, dankie dat U gewillig was om U te verneder sodat ek ’n oorvloedige lewe kan hê.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх