Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 9

Veg? Ja, maar …

Оглавление

Baie mense sê ons veg om oorlewing. Die lewe is nie maklik nie en jy moet baklei vir jou plekkie in die son. Dis ’n stryd om kop bo water te hou, sê hulle.

Dan skryf Paulus boonop dat ons in ’n oorlog gewikkel is wat in en om ons afspeel. ’n Geveg wat ons nie met die blote oog kan sien nie, maar wat so werklik is soos die vorm van jou vuis.

Ons weet ons het nie juis ’n keuse anders as om te baklei nie, want ons beleef die aanslae: moedeloosheid, ongeregtigheid, haat en hartseer, onge­loof. Ons veg teen ons sondige natuur en selfsug en liefdeloosheid.

Dit is ’n voortdurende geveg; ons bly aan die baklei – soms vol ywer, en ander kere met slap arms en lam knieë. Maar die oorlog is werklik …

Maar wat daarvan as die geveg nie lyk soos ons dink dit behoort te lyk nie? Sê nou dis nie bloot ’n swaardgeveg of ’n woorde-oorlog wat bloed en sweet en trane verg nie?

En wat daarvan as ons ’n onwaarskynlike taktiek kan probeer?

Reg geraai! Maar kán dankbaarheid ons help in hierdie groot geveg?

As ons diepste dankbaarheid dié is wat ons aan Jesus Christus ver­skuldig is, en ons begin leef in die wete dat dit juis deur sy genade is dat ons hierdie lewe het en hierin meer as oorwinnaars kan wees, dán ken ons ons allerbeste wapen. Dan weet ons hoe dankbaarheid teenoor Hom ons elke dag beskerm. Hy is elke oomblik saam met ons, en daarom ook in elke stryd. Hy gee die oorwinning (vgl. 1 Kor 15:57).

Eintlik is dankbaarheid dan net ’n ander woord vir krag. Dit neem boon­op elke dag toe as jy weet dat Hy wat al jou dank verdien, dít vir jou sê: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16:33b).

Here, help my om dankbaar te wees te midde van die stryd in my lewe. En help my om op U te vertrou.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх