Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 20

O, my hart …

Оглавление

Die kenners sê: Jou brein skryf aan jou hart voor hoe hy moet klop. Wanneer jy aan iets dink wat jou dankbaar maak, aktiveer dit die kalme­rende gedeelte van die outonome senuweestelsel. En as hierdie deel van jou senuweestelsel herhaaldelik geaktiveer word, het dit ’n beskermende uitwerking op jou hart.

Hoe dankbaarder jy voel en hoe meer dikwels jy daarvolgens optree, hoe egaliger is jou hartritme. Hierdie reëlmatigheid is oor die algemeen voordelig vir jou gesondheid en kan die kanse op ’n verhoogde bloeddruk en ’n hartaanval of beroerte verklein.

Navorsers het op ’n keer aan ’n groep mense gevra om ’n lysie te maak van dié dinge wat die voorafgaande week gebeur het waarvoor hulle dankbaar is. ’n Tweede groep moes neerskryf watter dinge hulle geïrriteer of ontevrede gemaak het. En ’n derde groep moes sê watter dinge hulle in die voorafgaande week geraak het, sonder enige aanduiding of dit positief of negatief was.

Ná tien weke het dit geblyk dat diegene wat oor hulle dankbaarheid geskryf het, beter en meer optimisties oor die lewe gevoel het. Verrassend genoeg het dit ook geblyk dat hierdie groep meer geoefen het, en dat daar minder doktersbesoeke by hulle was as by die ander.

Dis egter nie net jou hart wat jou vir jou dankbaarheid sal bedank nie; jou algemene welstand kry ook ’n hupstoot. Navorsing het uit­ge­wys dat persone wat ’n dankbaarheidslysie byhou, meer geredelik per­soonlike ideale soos akademiese, interpersoonlike en gesondheids­doelwitte bereik.

Hoe meer jy dinge en mense waardeer, hoe beter vir jou innerlike standvastigheid. Dit het onder meer tot gevolg dat jy meer in beheer van jouself voel en minder soos ’n slagoffer. Dit bring verder mee dat jy kalm kan bly in stresvolle situasies en op ’n toepaslike wyse optree.

Die navorsers het voorts waargeneem dat dankbare mense minder tot depressie geneig is. Asook dat dankbaarheid oor die algemeen tot laer angs- en stresvlakke lei.

Met bogenoemde in gedagte, maak Filippense 4:6-7 op baie maniere sin. Hier skryf Paulus: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Here, help my om my gedagtes só te rig dat ek met waardering en dankbaarheid na die lewe kan kyk.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх