Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 22

Nagmaal

Оглавление

In One thousand gifts neem Ann Voskamp die leser op ’n reis deur haar lewe as tuisblyma wat haar ses kinders tuis onderrig, en self die huis skoonmaak en kosmaak. Sy wil vir haar man ’n goeie vrou wees. Sy wil in die kerk dien, vriendskappe smee. Sy moet saam met siekte en verlies leef.

In elke oomblik, só lees ons, leer sy om dankie te sê. Om eucharisteo te leef.

Sy leef in danksegging bloot deur daarvan bewus te bly dat sy daardie keuse het. In daardie oomblikke wat haar kinders baklei, wanneer hulle ongehoorsaam is, wanneer die huishouding in ’n chaos gedompel is, leer sy dat daar ’n geleentheid is om dankie te sê.

Dis nie ’n maklike opdrag nie, maar dis uitvoerbaar.

Uitvoerbaar? Regtig?

Ja, want Jesus maak dit moontlik. Dit was sy liggaam wat vir ons gebreek is sodat ons in hierdie lewe en in hierdie omstandighede ons lewensvreugde in Hom kan vind. Dit was sy bloed wat vergiet is sodat ons met ons emosies, ons hart, siel, gees en liggaam ’n groter perspektief kan hê as bloot “hier” en “nou”.

Dis waarom ons bo ’n slegte situasie kan uitstyg en met God se ewige oë kan kyk en in sy Goddelike krag kan reageer.

Wanneer ons aan die nagmaaltafel sit en só aan Jesus se dood en opstanding deelneem, dan het ons ook gemeenskap met sy danksegging. Ons deelname aan die eucharist (soos ons dit in Engels noem), is ’n dankgebed, ’n eucharisteo vir Jesus se kruisdood en die volheid wat daaruit voortvloei. Die nagmaal word dan só ’n “dankmaal”.

In die nagmaal beleef ons dood en verlies en verlatenheid. Net soos ons dit dikwels in hierdie lewe beleef. Maar daarsonder sou Jesus nie vir ons die lewe kon gee nie, en nie vir ons genesing of vryheid of genade kon bring nie. Dis juis in hierdie danksegging vir ’n lyf wat gebreek is en bloed wat gevloei het dat daar vir ons genade en vreugde is.

Deur die brood en die wyn ontvang ons genade as ’n geskenk. Hier ontdek ons lewensvreugde. Charis én chara. In ons danksegging ontvang ons genade en heilige blydskap.

Die nagmaaltafel is nooit net ’n plek waar ons op sommige Sondae aansit nie. Hieraan neem ons elke oomblik van ons lewe deel. Dis in elke situasie van krag.

Daarom is daar vir ons in elke oomblik die geleentheid tot dank­seg­ging, omdat Jesus sulke oomblikke reeds deurleef én daarin getriom­feer het.

Ja, Jesus se genade en vreugde is in elke oomblik te vind. Selfs in stryd en chaos en dood. Dalk juis dán …

Jesus, dankie vir die nagmaal. Dis ’n herinnering daaraan dat ons U elke oomblik kan dank.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх