Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 16

Woorde en die Woord

Оглавление

Ons wêreld word deur woorde gevorm, en ingekleur deur die beteke­nis wat ons daaraan heg. Soms is dit ’n doodeenvoudige woord en sal niemand stry oor presies wat dit beteken nie. Tafel. Motor. Boom. Geen ruimte vir misverstand nie.

Dan is daar woorde wat jy met honderd ander kan omskryf en steeds nie die volle omvang daarvan kan raakvat nie. Veral as so ’n woord ’n gevoel beskryf, iets wat in ’n mens se hart gebeur. Liefde. Vreugde. Dank­baarheid. Hier is hande vol moontlikhede!

En dink nou maar aan “dankbaarheid”. Dis ’n emosie. Dis ook ’n deug, ’n vaardigheid, die motivering vir wat ons doen. Dis ’n gemoeds­toe­stand, ’n houding.

“Dis ál hierdie dinge – en soveel meer!” sê dr Robert Emmons, ’n voorste navorser op dié gebied.

Dankbaarheid is ook ’n reaksie op iets wat jy ontvang; dis ’n soort waardering. En dan nie omdat jy dit gekoop of daarvoor gevra het nie, maar omdat dit aan jou gegee is en streng gesproke nie aan jou verskuldig was nie.

Ja, ons wêreld word deur woorde gevorm. En dit word ryker, inniger en kleurryker gemaak deur die ervaring van daardie woord. Jy moet dit voel en leef. En dít kry jy slegs reg as jy daaroor nadink en doelbewus daarna soek. Net op dié manier kan jy die omvattende betekenis daarvan verstaan, en net só kan jy dit uitleef terwyl jy verder daaroor leer.

Dalk lê die beste verstaan van dankbaarheid opgesluit in die ander woorde waarmee ons dit beskryf, soos “gratitude” of “thankfulness” in Engels. Erkentlikheid, waardering, dank, lof. “Dis om jou toe te lê op die bewuswording van die klein, voorheen onopgemerkte dingetjies in jou dag,” sê Mark Williams, ’n kliniese sielkundige in Oxford.

En dalk lê die diepte van dankbaarheid in die belewing van die emosie wat dit beskryf, of in die reaksie op die emosie wat dit in ons wakker maak. Die uitspreek van dít wat in ons hart gebeur wanneer ons dank­baar is.

Die werklike omvang van hierdie ryk woord se betekenis lê egter op­gesluit in die Woord self. In Jesus Christus, die Woord wat mens geword het en tussen ons kom woon het (vgl. Joh 1:14). Hy is die Woord wat elke ander woord vir ons oopbreek sodat ons insig in die volle betekenis daarvan kan kry.

Here Jesus, dankie dat ek by U kan leer wat dankbaarheid alles behels.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх