Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 18

Voel dit!

Оглавление

’n Vriendin vertel hoe sy nooit deur ’n materiaalwinkel kan stap sonder om aan al die verskillende lappe te voel nie. Om net te kyk, is nie genoeg nie. “Ek vat sommer so ’n hand vol lap en vou dit in my vuis toe,” sê sy.

Sy wil die weefwerk onder haar vingers voel, die tekstuur ervaar, die patrone met haar hand aftas. Sy wil die lappe belééf.

Só werk dit ook in die lewe. Dis nie genoeg om net ’n toeskouer te wil wees nie; die werklike lewe word ervaar, en dan in al die tekstuur en detail wat hierdie wonderlike wêreld ons bied.

Die kenners sê dankbaarheid werk ook so. Daar is klaarblyklik ’n proses in twee stappe wat aan die gang kom wanneer jy dankbaarheid beleef, en die eerste hiervan is ’n soort voel-die-lap-tussen-jou-vingers-belewenis.

Die eerste fase gaan gepaard met die erkenning dat jy nou iets goeds beleef. Dat jy die tekstuur en detail van die lewe beleef, en dat dit ’n positiewe ervaring is. Tydens die tweede fase besef en erken jy dat die bron van hierdie positiewe ervaring buite jou lê. Dít waaraan jy nou raak – die kleur, tekstuur en skoonheid daarvan – is nie in jouself geleë nie en is nie uit jou afkomstig nie.

Hierdie dankbaarheidsproses gebeur nie net in jou kop nie; dit be­trek ook jou hart, dit katrol jou emosies in. Die geleerdes stel dit só: Dankbaarheid is ’n kognitiewe sowel as ’n emosionele toestand. Dis aanskou en voel en dink en beleef.

Dankbaarheid is om die lewe se goedheid te erken, al is daar net ’n spikkeltjie daarvan waarneembaar. En om hierdie goedheid aan te gryp en in te drink. Bo alles leef dankbaarheid in die besef dat die lewe voorwaar ’n geskenk uit God se hand is.

Here, dankie dat ek die goedheid van die lewe kan beleef. Só leer ek dat U die Bron van mooi dinge is.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх