Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 25

Wat God verwag

Оглавление

Die ma sê aan haar seuntjie: “Jannie, sit nou!”

Die outjie is nie lus om te sit nie en hy kyk uitdagend na sy ma, sy arms voor sy bors gevou.

Sy sê weer, harder dié keer: “Jannie! Sit!”

Toe gee hy in. Stadig sak sy lyfie op die stoel neer. Maar so met die gaan-sit-slag sê hy vir sy ma: “Ek sit dalk, maar binne-in my staan ek!”

Té dikwels het ek al gevoel dat ek so met die Here maak. Ek doen wat Hy vra, maar binne-in my woed my eie begeertes. Wat telkens téén dit is wat Hy van my verwag.

Maar wanneer ek op my lewe terugkyk, weet ek dat God se wil uitein­delik die beste weg is. Sy beginsels en bepalings bring lewe. Sy wette en eise is goed en suiwer.

Daar is baie opdragte wat uit die Bybel na ons toe kom. In 1 Tessa­lo­nisense 5 noem Paulus byvoorbeeld vyf dinge wat God van ons ver­wag: wees altyd bly; bid gedurig; wees dankbaar; moenie die Heilige Gees teenstaan nie; bly weg van wat sleg is.

Maar by slegs een van hierdie opdragte, dié oor dankbaarheid, voeg Paulus by: “(W)ant dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ja, God verwag van ons om dankbaar te wees.

En dit vanweë Jesus se aardse lewe, sy sterwe, sy oorwinning oor die dood. Sy mag oor sonde, sy vrymakende krag wat in ons werk, sy genade en liefde en trou. Dit is waarom ons dankbaar moet wees soos God dit van ons verwag.

Dit behels tog nie dankbaarheid vir al die slegte dinge wat hierdie gebroke wêreld aan ons opdis nie. Dis wel om dankbaar te wees in alle swaar, ingewikkelde, veeleisende omstandighede. Dis om dankbaar te wees omdat Jesus saam met ons in hierdie situasies is en weet hoe dit voel.

God verwag van ons om dankbaar te wees, en daarom gee Hy sy Gees aan ons om ons te help om sy opdragte uit te voer. Nie soos willose robotte nie, maar soos sy kinders dit doen: met ons hele hart.

Jesus, dankie dat U my die krag en genade gee om in alle omstandighede dankbaar te wees.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх