Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 17

Gerigte genade

Оглавление

Wanneer ons oor dankbaarheid dink, help dit om te weet dat dié in­ge­steld­heid eintlik ’n erkenning van genade is. Die woord “gratitude” waar­mee Engels dankbaarheid beskryf, is afgelei van die Latynse woord “gratia”. Oftewel genade, goedhartigheid, erkentlikheid.

Al die woorde wat van “gratia” afgelei word, het te make met goed­hartigheid, vrygewigheid, geskenke, die mooi van gee en ontvang, of om iets vir niks te ontvang. Dit is sonder twyfel so: Dankbaarheid en genade het alles met mekaar te doen.

Jou dankbaarheid wys natuurlik ook altyd weg van jouself af. Dit word gerig op ’n ander persoon, op iets in die natuur of iets bonatuurliks. Dit beskryf die wete dat jy persoonlik positiewe gevolge beleef, boonop sonder dat jy daarvoor gewerk of dit verdien het.

Sal ons dankbaarheid dan nie toeneem as ons elke dag God se genade raaksien nie? Sal ons God se genade nie voller kan beleef as ons gereeld oor die omvang daarvan kennis neem nie?

Hoe wonderlik dat die Bybel ons help om juis genade raak te sien én in soveel stories en gebeure en woorde die omvang hiervan te leer ken.

God wat sê: “Kom hier! Jy is Myne,” rig hierdie woorde aan hulle wat Jesus as Verlosser erken. Hiermee sê Hy: “Jy is baie duur gekoop. Jy is my eiendom. Jy is ’n kind in my huis.”

Hy roep ons uit die duisternis na sy wonderbare lig. Deur sy barm­hartigheid het Hy ons deel van sy volk gemaak.

Hy het al ons dae in die boek van die lewe opgeskryf nog voordat ons begin leef het. En toe het Hy ons gekies om goeie werke vir Hom te doen. Méér: Hy het die Heilige Gees gegee om ons met hierdie goeie werke te help. Boonop het Hy sy liefde in ons hart uitgestort.

Hy het egter nie net die krag en liefde en vreugde van die Heilige Gees aan ons gegee nie; Hy seën ons ook met al die seëninge wat daar in die hemel is.

Dis Hy wat aan ons genade bewys, dié God wat goedhartig en vry­gewig is en wat gee wat ons nie verdien nie. Dis Hy wat ál ons dank­baar­heid moet kry.

Here, dankie vir u onbeskryflike genade. Ons kan nooit ophou dankie sê daarvoor nie.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх