Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 8

Mure

Оглавление

Mense hou daarvan om mure te bou. Dit beskerm ons, ons kan daaragter wegkruip. Mure laat ons veilig voel.

Maar mure is nie vir ons hart gemaak nie, want dit hou ander buite en ver weg van ons sagte kern, ons ware self. Mure hou die liefde wat ons aan ander kan gee net vir onsself; ongebruik en ondoeltreffend.

Jy sal wel kon sê mure is nodig om seerkry en teleurstelling van jou af te weer. Om pyn te verhinder, bou jy maar mure rondom jou wat jou soos ’n skans kan beskerm.

Maar sê nou daar is ’n alternatief? ’n Beter buffer, een wat beter beskut?

Dankbare mense, só sê die navorsers, beleef oor die algemeen baie posi­tiewe emosies. Dit sluit tevredenheid, lewenslus en algehele optimisme in. Hulle ken wel ook negatiewe emosies, maar die positiewes dien as buffer teen die impak van die negatiewes. Dankbaarheid dien dus as niks minder nie as ’n skans.

As die wêreld begin houe uitdeel en ons die mure in ons hart hoër en hoër wil bou, sê dié wat dankbaar is: “Ek voel die houe, ek ervaar die seer. Maar ek kan dit vat. Ek kan weer opstaan.”

Dankbaarheid vorm ’n keerwal om ons hart. Dis nie ’n muur wat liefde en hoop en vreugde buite hou nie, en dit hou nie ander mense op ’n afstand nie. Dis bloot ’n versterking wat ons help om die lekker en die mooi van die lewe met oorgawe te kan beleef. Op dié manier kan ons steeds ander innooi, en steeds liefde uitdeel. Nee, die seerkry, teleur­stelling en pyn wat die lewe uitdeel, gaan ons nie nou verby nie, maar ons hanteer dit anders: kop omhoog, moedig, geduldig. En dankbaar.

Here, help my om die mure om my hart laag te hou, sodat die dankbaarheid volop kan wees.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх