Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 28

Tevrede

Оглавление

Dis nie lekker om in iemand wat knaend onvergenoegd is se geselskap te wees nie. Daardie soort mense wat met niks tevrede is nie, wat alles kritiseer en nooit ’n goeie woord vir iemand anders het, wat sommer uit gewoonte oor alles kla, is nie die beste kring om in te sit nie.

Dis seker ook nie lekker om so ’n persoon te wees nie …

Daar skort mos altyd iets. Daar is knaend iets wat ek wou gehad het maar nie het nie. Diep in my binneste is ek ontevrede en bly ek ontevrede. Niemand kan hierdie onvrede oplos of verwyder nie.

Ja, hierdie soort onvergenoegdheid is ook by God se kinders teen­woordig. Ook ons wat deur Jesus verlos is, soek voortdurend na iets meer, iets nuuts.

Paulus het dit alles geweet toe hy vir Timoteus skryf oor die mense wat altyd op soek is na meer. Meer kennis, slimmer verklarings, ’n gemakliker lewe. Dis die mense wat aanhou soek, al is die (eenvoudige) antwoord hier voor hul neus en al is alles wat hulle nodig het reeds in hul besit.

Paulus skryf onder meer aan die jong Timoteus: “Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het” (1 Tim 6:6).

En in sy volgende brief aan Timoteus skryf hy oor die verskriklike verdorwenheid van die laaste dae. Oor hoe mense “liefhebbers van hulle­self (sal) wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, on­ge­hoor­saam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig …” (2 Tim 3:2 – 1933/1953-vertaling).

Hierdie mense “sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie,” skryf hy. En, voeg hy by: “Bly weg van sulke mense af” (vgl. 2 Tim 3:5).

Dan moet Timoteus die volgende aanhoor: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo … jy ken van kleins af die heilige Skrif … (wat) groot waarde (het) om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim 3:14-17).

Timoteus word dus geleer om ook ondankbaarheid te sien vir die aakligheid wat dit is, en dit deur die Skrif reg te stel.

Here, laat u Woord my onderrig en my leer om tevrede te wees met wat ek het.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх