Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 26

Bestemming

Оглавление

Daar is min dinge so lekker soos om ’n spesiale plek te besoek – hoe ver­der, hoe beter! ’n Groot deel van die lekkerte is die beplanning daarvan, die uitwerk van die roete, die opwinding van die vertrek.

Sommige mense hou daarvan om die pad na hul bestemming so vinnig en so gerieflik moontlik agter die rug te kry. Ander verkies om rus-rus te ry. (Dikwels tot die ergernis van diegene in die motor of die konvooi wat wil ry en klaarkry!)

Dan is daar boonop die meer avontuurlustiges wat oral afdraai­paadjies soek …

Elkeen van daardie mense neem besluite op hul reis op grond van die eindbestemming wat hulle wil bereik en die manier waarop hulle dit wil doen.

In Engels is hulle op pad na ’n “destination” – wat afgelei is van “destiny”. Laasgenoemde word ook gebruik om “roeping” mee te vertaal. Eindbestemming hou dus verband met roeping.

Wat is ons roeping? Hierdie uitspraak in 1 Johannes 3:2 help ons: “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees.”

Ons roeping is dat ons soos Jesus sal wees. Ons eindbestemming heet “Jesus”.

Hoe bereik ons dit? Deur op te hou om aanhoudend sonde te doen. Deur ons rein te hou. Deur regverdig te leef. Deur ander mense lief te hê (vgl. 1 Joh 3:3-11).

Dit sluit ook in dat ons sal ophou om negatief en oorkrities te wees, om ondankbaar te wees en onvergenoegd met ons omstandighede. Dat ons sal dankie sê vir dit wat ons ontvang het en bewus wees van God se genade wat ons die lewe gegee het.

’n Rein lewe vereis dat ons ons oë op Jesus gevestig sal hou, Hom as voorbeeld sal volg. Hy wat in alle omstandighede vergenoeg was en gereeld dankgebede tot God gerig het. Hy wat geglo het in God wat voorsien en versorg, wat God in elke situasie erken het, seker was dat sy Vader almagtig en liefdevol is en dat Hy uiteindelik alles ten goede sal laat meewerk.

Dankbaarheid help ons dikwels om die regte keuses te maak totdat ons by ons eindbestemming aanland. Of ons nou rus-rus tot daar ry, of op die hoofweg se vinnige baan. Met dankbaarheid as reisgenoot kom ons baie nader daaraan om ons roeping te vervul: om soos Jesus te word.

Jesus Christus, help my om in dankbaarheid die regte besluite te neem totdat ek by U kom, my eindbestemming.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх