Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 5

Honderd dae se “dankie”

Оглавление

Die uitdaging was eenvoudig: Ons moes elke dag, honderd dae lank, iets in ons alledaagse lewe vind wat ons gelukkig maak. Ons moes dan ’n foto daarvan neem en dit na ons “100 Happy Days”-groepie stuur.

So het ons elke dag die lewe met ’n spesifieke uitkyk aangepak – een van raaksien en waardeer. ’n Lewe vol doelbewuste dankbaarheid.

Dié klompie maande het my lewensuitkyk vir altyd verander.

Ons “100 Happy Days”-groepie se foto’s het tot ’n argief van die won­derlikste momente gegroei. Daar was onder meer ’n foto van ’n dahlia wat ’n haelstorm oorleef het, een van ’n paar tekkies wat van ’n heerlike oefensessie getuig het. Daar was een van ’n smullekker tuisgebakte koek, en een van ’n uitstappie saam met vriende.

Daar was ’n beeldskone foto van ’n herfsblare-tapyt wat ’n hele sypaadjie oranje gekleur het. En een van ’n klassieke motor in vreugdevolle aksie.

Ons dankbaarheid-argief was egter meer as die mooi foto’s daarin. Daarin opgeneem was ook die deurlopende soeke na dinge waarvoor ons dankbaar was. Dit het die manier verander waarop ons na die lewe kyk. Dit het ons onder meer in Jakobus se woorde laat getuig: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo” (Jak 1:17).

Dit was ook vir elkeen lekker om te sien waarvoor die ander dankbaar was. En, nee, anders as wat ’n mens sou dink, het ons mekaar nie die onder­skeie vreugdes misgun nie. Dankbaarheid word tog nie gebou op ’n soort hovaardigheid omdat jy beter daaraan toe is as ’n ander een nie. Ons het bloot ervaar dat hierdie groepie ons aangespoor het om die positiewe dinge in ons lewe te waardeer, en om só by die kern van dankbaarheid te kom.

Interessant genoeg: Die “100 Happy Days”-groepie het hier by Dag 30 begin stiller word. Ons het besef hoe baie dinge daar is om voor dankbaar te wees waarvan jy nié ’n foto kan neem nie. Die foto’s het later dus net drupsgewyse begin inkom, en nóg later het die stroompie heeltemal opgedroog.

Maar hierdie gewoonte het gebly: ’n ingesteldheid om te waardeer, ’n houding van dankbaarheid.

Boonop het ons geleer dat dankbaarheid aansteeklik is.

Here, leer my om dié dinge wat ek in die lewe waardeer, ook met ander mense te deel.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх