Читать книгу Voetspore 2 - Johan Badenhorst - Страница 10

Mexikaanse omelet

Оглавление

Wees gewaarsku: As jy hierdie gereg een keer gemaak het, moet jy bereid wees om dit nog baie kere daarna te maak. Jy sal naderhand moeg word vir al die versoeke.

Voorbereidingstyd 20 minute • Gaarmaaktyd 20 minute

Genoeg vir 6 mense

2 uie, in skywe gesny

10 ml (2 t) fyngekapte knoffel

10 ml (2 t) gekapte brandrissies

olyfolie

1 pak (250 g) spekvleis, in stukkies gesny

2 blikke tamatie-en-uiesmoor

6 eiers

250 g kaas, gerasper

sout en peper

gedroogde pietersielie

roosterbrood

Braai die uie, knoffel en rissies in olyfolie op ’n gietysterplaat of vlak skottelbraaier tot sag. Voeg die stukkies spek by en braai alles tot gaar. Hou die spekmengsel eenkant. Gooi al die tamatie-en-uiesmoor op die plaat, maak ’n paar holtetjies en breek die eiers daarin oop. Sprinkel die spekmengsel en die kaas oor. Geur met sout en peper na smaak, en garneer met pietersielie. Sit ’n deksel bo-oor die omelet (kyk wenk hieronder), laat ongeveer 10 minute staan en sit op roosterbrood voor.

WENK: Die grootste probleem met hierdie gereg is die deksel. Die meeste gasbraaiers en Webers het ’n koepeldeksel wat goed werk. Anders gebruik mens sommer die emaljeskottel wat jy saamry om die wasgoed in te was, of vou ’n dubbele vel dik tinfoelie om sodat dit soos ’n koepel lyk.


VARIASIE: Probeer dit ook met boerewors, in ringetjies gesny, en fetakaas; Weense worsies en sampioene; boeliebief en uie; olyf-tapenade of songedroogde tamaties?

Voetspore 2

Подняться наверх