Читать книгу Voetspore 2 - Johan Badenhorst - Страница 5
ОглавлениеBeplanning
Spyskaart
’n Safari duur normaalweg tussen tien en twintig dae. Dit werk goed om een hoofgereg vir elke dag te beplan, naastenby die volgorde van die etes reg te kry en al die bestanddele bymekaar te sit. Dit help jou ook om die vrieskas te pak sodat die kos wat laaste op die safari gebruik sal word, heel onder in is.
Wanneer meer as een gesin gaan saamtoer, is dit ’n goeie plan om die etes af te wissel en die verskillende gesinne vooraf te laat weet wanneer hulle kook. Met die reisbeplanning, voeg sommer ’n kolom by vir kookbeurte. Sit net vooraf koppe bymekaar oor die beplande spyskaart, anders eet julle straks drie aande agter mekaar skaapskenkelpotjie.
Kookbeurte help wanneer mens ’n aandete en die volgende oggend se ontbyt saam beplan. Van die aand se oorskietkos kan dan in die spyskaart vir ontbyt of brunch ingewerk word. Die gesin wat nie die aand verantwoordelik is vir die ete nie, sorg net vir die drankies, geselskap en grappe (... veral as swaer Francois of vriend Ampie by is). Verder is dit hulle aandjie af en kan hulle behoorlik sit en ontspan, anders voel die vakansie naderhand alte veel soos werk.
Met groter groepe is dit raadsaam om nie meer as drie gesinne saam in te deel nie. Die bestanddele vir etes vir meer mense, asook groot potte kan ’n probleem wees om saam te piekel, en verder wil mens so elke derde dag darem self agter die kospotte inskuif.
Potte
’n Broodpot en ’n kookpot – albei van gietyster – is omtrent al wat nodig is. Dan ook een wat ’n bietjie kleiner is om ’n sous in te maak of rys in te kook. Driepootpotte lyk baie mooi op ’n foto, maar daardie pote is altyd in die pad as mens wil pak. ’n Platboompot op ’n driebeenstaander werk net so goed. Dan is ’n ketel ook ’n moet, en vir mense wat hou van moerkoffie, ’n behoorlike kampperkoleerder. ’n Pan is opsioneel, en mens gebruik gewoonlik ’n gasbraaipan. Sorg dat dit een is wat ook op die vuur kan kom.
Eetgerei
Papierborde het seker hul nut, maar gebruik dit liefs net in ’n noodgeval of vir ’n vinnige ete langs die pad. Dis nie uitgeknip vir potjiekos of enige ander warm, souserige gereg nie. Jy gaan net kwaad word. Jy is met vakansie – sorg dat jy uit ’n lekker bord eet. Dieselfde geld messe en vurke. Moenie skaam wees om behoorlike goed saam te vat nie. Daar word ná elke ete skottelgoed gewas en so verloor mens ook nie sommer jou messegoed nie.
Bekers vir koffie op safari is gewoonlik van emalje. Dit voel reg, behalwe dat jy gewoonlik jou lippe verbrand met die eerste sluk. Die bekers wat soos ’n termosfles werk, hou koffie lekker lank warm – amper te lank sodat jy dit amper nie gedrink kry nie. Daarom is daar nie fout met ’n goeie porselein- of erdebeker nie. As dit goed verpak word, sal dit ook nie breek nie. Dieselfde geld glase. Die staalglase lyk mooi in die safariwinkel en voel reg – dis ’n ding wat beslis sal hou – maar met die eerste sluk, wanneer dit voel of jou onbreekbare glas al die stopsels in jou tand aktiveer, verlang jy na jou glas van glas. Pak hom dus gerus in.
Gasstoof of oop vuur?
Gas is goedkoop en veilig en voel of dit vir ewig hou. Vir koffie en tee, en vir warm water vir skottelgoed en gesig was is ’n gasstofie onontbeerlik. Die lekkerste stoof bly egter die vuur. Daarop kan mens kook, veral as jy ’n behoorlike driebeen of rooster het waarop jy die potte kan neersit.
Rooster
’n Toeklaprooster is vir die meeste geleenthede geskik, maar ’n staanrooster wat mens agter op jou voertuig se noodwiel vasmaak, kom baie goed te pas.
Skottelgoed
’n Skottel om skottelgoed in te was moet nie te diep en te groot wees nie, want dan moet mens te veel water warm maak. ’n Afdroograk is ook nuttig.
Basiese skottelgoedseep is natuurlik belangrik, maar ook skuurmiddel en staalwol om hardnekkige vuilheid uit ’n pot te kry. Wanneer die staalwol opraak, is riviersand die beste plaasvervanger. Moenie ’n skuursponsie of waslapppie en afdroogdoeke vergeet nie. Donker kleure werk gewoonlik die beste en kan ná afloop van die reis in skroplappe verander. Papierhanddoeke het ook allerlei gebruike.
Water
Skoon water is kosbaarder as goud in die bos. Gebruik drinkwater spaarsamig, en was eerder jou lyf en jou klere met die water wat jy by jou kampplek kry. Kook altyd die kosmaakwater vooraf en gebruik watersuiweringstablette as jy enigsins twyfel. Ons het ook al hoe meer ons watersuiweringsapparaat gebruik. Dis ’n tydsame proses, veral as jy ’n tru-osmosestelsel het. Maar dit is 100% veilig.
Vatlappe/oondhandskoene
Op safari word kos op die gasstoof of die vuur gemaak. Feit is, daar’s altyd hitte by betrokke. In ’n kombuis het mens vatlappe nodig, maar op safari iets ernstigers. Die vatlappe moet dik genoeg wees sodat mens ’n vuurwarm rooster daarmee kan optel. Nog beter is sweishandskoene. Dis relatief goedkoop en jy kan selfs ’n brandende stomp daarmee optel. Dit gebeur ook gereeld dat die driebeen of rooster verskuif moet word; sweishandskoene is dan net die ding.
Brandhout
Op baie plekke kan mens self gaan hout maak, maar in die woestyn- en dorre gebiede is dit skaars en in wildtuine verbode. Daarom is dit raadsaam om altyd ’n sakkie houtskool of twee saam te ry. Onthou net om dit in ’n plastiekvullissak te verpak. Wanneer die pad lank sinkplaat is, skud die houtskoolsak soms stukkend en dan is alles met ’n fyn swart stof oortrek. Die San se manier om ’n vuur brand te maak is weliswaar baie romanties, maar soms is die hongerpyne al weg, dan sukkel mens steeds om ’n vlam te kry. Onthou dus die vuuraanstekers en moet dit nie saam met die vars kos inpak nie, anders proe alles na paraffien.
Waar daar hout te koop is, doen dit. Ondersteun die plaaslike mense, veral as hulle deelneem aan ’n projek om indringerbosse uit te roei. Min vuurtjies brand so lekker as een wat met portjackson-stompies gemaak is.
In lande noord van die Zambezi word daar ook houtskool deur die inwoners gemaak. Daar is baie vrae rondom die ontbossing van die vasteland. As jy ’n sak houtskool langs die pad koop, dra jy daartoe by? Besluit maar self. Die houtskool word veral in die plakkersbuurte om die groot stede gebruik. Vir talle is dit die enigste bron van energie. Dit werk so goed dat, as mens klaar gekook of gebraai het, jy dit kan natgooi en môreoggend inpak om weer ’n keer te gebruik.
Oor die landsgrense
Ons hoor verskriklike stories van hoe mense se rypgemaakte filet, koedoerugstring of gemarineerde hoender by ’n veterinêre pos in Botswana afgeneem word, en daardie aand net mooi niks is om te braai nie. Dit is so dat wanneer jy oor die land se grense gaan, jy versigtig moet wees oor waarheen jy vars vleisprodukte neem. Die basiese reël is dat mens dit noord mag neem, en nie suid nie. Vind liewer vooraf uit, en maak plan om die vleis te koop daar waar jy gaan toer. In Namibië en Botswana byvoorbeeld, is daar uitstekende vleis. In ander lande soos Zambië en Malawi is die verwerking van die vleis nie so netjies as waaraan mens tuis gewoond is nie, maar met die gehalte is daar nie fout nie. Dis onnodig om dit van Suid-Afrika af saam te karwei. In Zambië en Kenia kry jy in die supermark ’n produk wat genoem word “boerewors”. Nie presies Groenkloof Slaghuis se resep nie, maar glad nie sleg nie. Probeer dit gerus ...