Читать книгу Voetspore 2 - Johan Badenhorst - Страница 4

Оглавление

Erkennings

Die geheim is uit – die Voetspore-resepte word nie alles deur die manne ontwikkel nie. Alma, my vrou, het oor die jare ’n reuse-bydrae hierin gehad. Voor elke reis doen sy navorsing in kookboeke, op die internet en in die notas wat sy oor die jare versamel het terwyl ek en sy kook in die kombuis. Sy kyk deur watter lande ons reis, en watter bestanddele waarskynlik beskikbaar sal wees. So stel sy vir elkeen van die Voetspore-ekspedisies ’n “kookboek” saam. Hierdie Voetspore-kookboek is ’n keur uit die samestelling van al die resepte uit daardie kookboeke.

’n Resep is amper soos ’n idee en dit is nie juis moontlik om kopiereg daarop uit te neem nie. Ek sou glad nie omgee om die kopiereg op ’n resep vir braai, spaghetti carbonara of kaaskoek te hê nie. Daarmee sou ek miljoene kon maak. Dis miskien juis hoekom mense hul resepte so geheim hou en, as hulle dit vir jou gee, daar altyd een bestanddeel weggelaat is. In die Voetspore-kookboek is ons hopelik volledig, hoewel ’n klein bietjie innovering en eksperimentering aangemoedig word. Dis baiekeer noodsaaklik, bloot as gevolg van die beskikbaarheid van bestanddele of ander veranderlikes van die situasie.

In dié boek word daar soms verwys na mense by wie ons ’n resep geleen, gebedel of gesteel het. Partykeer is dit bietjie aangepas. Dankie aan hulle wat ons al help kampkos maak het.

Johan Badenhorst

Mei 2014

Voetspore 2

Подняться наверх