Читать книгу Voetspore 2 - Johan Badenhorst - Страница 3
ОглавлениеVoorwoord
Die Voetspore-manne glo daaraan om lekker te eet – dit is deel van die safari. Saans, om die kampvuur, sit mens en gesels, skil ’n paar aartappels, braai ’n bietjie uie en knoffel, maak ’n lekker peri-peri-sous vir hoender of kyk sommer net hoe die potjie prut.
Die kosmakery is net soveel deel van die ekspedisie as om ’n voertuig uit die modder te pluk met ’n kinetiese band, om onder ’n koue stort te staan met die bosveld om jou as ’n badkamergordyn, of om ’n paar uur lank te kyk hoe olifante mopanieblare verorber.
Kook is nie moeite nie – dis pure plesier. Die dae dat daar elke liewe aand vleis gebraai en dit saam met pap en sous geëet word, is lankal verby. Braai en pap en sous bly kampkos, maar maak nie meer die hele spyskaart uit nie.
Kosmaak op toer is ’n manne-ding, nie dat hulle nie hulp nodig het nie. Hulle het nie huishoudkunde op skool gehad nie en weet nie hoe om Maizena te meng of van vlak- of diepbraai nie. Hulle maak net asof hulle weet, want dis die vroue wat heeltyd in hul oor fluister. Maar die manne ken van eksperimenteer, hoe om brood te bak en om so ’n bietjie flair aan die alledaagse te gee ... of so dink hulle.
Kosmaak op safari is ook ’n bietjie anders as by die huis. Ontbyt is nie groot nie, tensy dit vir ’n spesifieke geleentheid beplan word, en dan haal mens al die speelgoed uit en maak ’n okkasie daarvan. Omdat daar meestal net koffie en beskuit vir brekfis is, word dit opgevolg met ’n vroeë middagete oftewel brunch. Die brunch is iets waaraan jy eintlik al die vorige dag begin beplan het. Wanneer jy saans kos maak, maak dubbel, want dan is daar ook iets vir môre se brunch en hoef jy net een keer se potte te was.
Die hoeveelhede vir safarikos is belangrik – dis nie dat jy vyf gram van dié en tien milliliter van daai akkuraat moet afmeet nie, dis net dat daar nie gemors moet word nie. Die yskas is net groot genoeg, en in die boendoe kook mens nie vir opskeploerders nie.