Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 66

BABA WAT AANRAKING NODIG HET

Оглавление

Tot dusver het Baba sy hele bestaan veilig en knus in jou baarmoeder deurgebring. Die skielike verlies aan hierdie warmte en geborgenheid, saam met baie ouers se geloof dat ’n mens die baba sal bederf as jy hom te veel aanraak en vashou, kan ’n wrede skok wees vir sommige babas. Aanraking is ’n basiese menslike behoefte en hoogs terapeuties. Navorsing toon dat gereelde massering die immuunstelsel versterk, gesondheid verbeter, spanningsvlakke verlaag en pasgebore babas se groei versnel. Dit lyk dalk soos koliek, maar dalk is dit eerder ’n noodkreet uit Baba se hart uit. Die oplossing is heel eenvoudig – vertroetel jou babatjie.

Aan die ander kant is dit nie ’n goeie idee om te veel aanraking deur vreemde­linge toe te laat nie. Onthou dat babas wat van die een belangstellende besoeker na die volgende aangegee word, dikwels baie onrustig raak sodra die aandag onttrek word en dat jy dan letterlik met die kniesende baba opgeskeep sit. Al is dit ook hoe goed bedoel, is dit dus die beste om Baba die eerste paar weke teen oormatige hantering deur vreemdelinge en te veel onbekende stemme te beskerm. Baba moet reeds by soveel nuwe dinge aanpas in dié vreemde wêreld.

Beproef hierdie wenke:

•Masseer elke dag voor badtyd Baba se hele lyfie met ferm, maar ligte hale – dit is nie belangrik presies hoe jy dit doen nie; ontwikkel bloot jou eie styl en doen dit gereeld.



•Gebruik jou wysvingers en masseer Baba se slape met ligte sirkelbewegings voor sy aan die slaap raak.

•Gebruik ’n bietjie amandel- of druiwepit-olie om Baba se buik regs om (met die klok) te mas­seer wanneer hy ongemaklik lyk.

•Hou Baba regop en masseer sy laer rug as dit pynlik is om ’n stoelgang te passeer.

•Gebruik gereeld ’n buidelsak.

•Laat Baba saam met jou in die bed slaap of in ’n kampeerwiegie wat op dieselfde hoogte as jou matras gestel is – dit is ’n heel natuurlike, menslike ding om te doen.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх