Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 86

ANDER UITDAGINGS

Оглавление

Wanneer jou baba eers die aanvanklike krisisse oorleef het, lê daar nog ’n hele paar struikelblokke voor. Babas doen dikwels infeksies op in die hospitaal, deels weens hul verlaagde weerstand, maar ook omdat ’n hospitaal byna per definisie ’n vrugbare teelaarde bied vir organismes. Was altyd jou hande baie deeglik voordat jy hom hanteer, en dit geld almal wat met hom in aanraking kom. As hy aan volgehoue hoë vlakke van suurstofterapie blootgestel was, is daar ’n moontlikheid dat die retina van die oë beskadig is – en julle sal mettertyd ’n oftalmoloog moet besoek. Dit gaan volgehoue toewyding verg om die suigrefleks te stimuleer en jou baba aan te moedig om genoeg melk in te neem; probeer dus sorg dat die res van jou program nie te veeleisend is nie.

Die dag gaan kom dat jou kind gereed sal wees om verskuif te word na ’n oop bedjie sonder enige spesiale hoëtegnologiesorg. Jy gaan van voor af al die gevoelens van onsekerheid rondom die versorging van ’n klein babatjie ervaar, maar dit gaan wonderlik wees om haar sonder enige belemmering te kan vashou en vertroetel. Kort daarna sal jy haar kan huis toe neem, maar julle gaan waarskynlik nog jare lank met die gevolge van die voortydige geboorte saamleef, veral as jou baba baie vroeg gebore is. Onthou dat jy nie hierdie kind met ander kinders van dieselfde ouderdom moet vergelyk nie, maar met kinders wat op die verwagte datum gebore is. Jou baba se verblyf in die spesiale sorg van die hospitaal was eintlik bloot ’n nabootsing van die tyd wat hy nog in die baarmoeder sou deurgebring het. Die meeste ouers aanvaar dit op ’n intellektuele vlak, maar vind dit steeds moeilik in die praktyk. Dit sal jou en jou kind baie spanning bespaar as jy dit kan onthou.

Die homeopatiese middel Baryta carb. kan ’n agterstand help inhaal en ook verdere probleme voorkom wat later arbeidsterapie mag vereis. Raadpleeg ’n homeopaat, aangesien dit op ’n baie spesifieke wyse voorgeskryf moet word.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх