Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 82

BABA SE BEHOEFTES

Оглавление

Omring jou baba met ’n gevoel van liefde en hoop, streel hom en sing soveel moontlik vir hom. Speel gereeld musiek en gesels onbevange met jou baba – jou stem is vir hom baie bekend en sal hom troos. Doen jou bes om borsmelk uit te pomp: hoewel Baba heel waarskynlik aanvanklik nog nie aan jou sal kan drink nie, het sy die heilsaamheid en immuniteit van moedersmelk nou nodiger as ooit.

Natuurlik verkeer baie babas wat “voor hul tyd” gebore word nie in soveel gevaar as wat hier geskets word nie. Tog is daar ouers wat hul babas verloor, soms ná ’n lang stryd. Trooswoorde mag in hierdie ontsettende tyd vir jou hol klink, maar moenie wegskram van jou gevoelens nie. Moenie die paar spesiale herinneringe wat jy dalk aan jou baba het, wegstoot nie, en moenie die woede en hopeloosheid wat jy dikwels ervaar, ontken nie. Praat gereeld met ’n spesiale persoon in jou lewe hieroor. Rou oor jou baba, en oor jouself. Mans en vroue hanteer hul verdriet op verskillende maniere. Moenie toelaat dat dit jou en jou maat vervreem nie: julle het mekaar nou nodiger as ooit. Maak kontak met ander ouers in dieselfde posisie, byvoorbeeld deur ondersteuningsgroepe soos Compassionate Friends. As julle ander kinders het, wees eerlik met hulle oor wat gebeur het en oor jul gevoelens. Hulle kan dikwels selfs die pynlikste waarheid beter hanteer as wat ons sou kon droom as hulle deur liefde omring word, en as ons hulle toelaat, kan hulle ons selfs help om gouer te genees.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх