Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 68

Melk opbring of “oorkook” by babas

Оглавление

Melk opbring of oorkook ná voedings beteken nie noodwendig dat Baba aan ’n enstige toestand ly of nie genoeg melk inkry nie. Babas wat gemengde voeding (borsmelk en formule) of net formulemelk kry, is meer geneig om melk op te bring. Dit lyk gewoonlik meer as wat dit is – as Baba nie gewig verloor nie en steeds gedy, is daar nie rede tot kommer nie. As melk ná ’n paar voedings kragtig uitgebraak word (ook bekend as projektielbraking), moet jy jou dokter raadpleeg aangesien Baba aan ’n toestand bekend as maagslotvernouing kan ly. Die kringspier tussen die maag en ingewande trek kragtig saam en die verteerde melk kan nie daardeur beweeg nie. Na gelang van die erns van die toestand sal ’n operasie dalk nodig wees om die kringspier te laat ontspan.

Hou die volgende perspektiewe en wenke in gedagte as Baba gereeld melk­klonte opbring ná voedings (ook bekend as gastriese refluks), maar nie baie kragtig nie:

•Gee Baba dikwels klein hoeveelhede melk.

•Hou Baba omtrent 30 minute lank ná ’n voeding regop.

•Vryf Baba se winde omtrent 10 minute lank ná ’n voeding deeglik uit.

•Dien homeopatiese NausiCare toe. Los 1 tablet in 5 ml afgekoelde kookwater op en gee voor elke voeding om die braakrefleks en kragtige opbring van melk as gevolg van ’n ligte spasma in die klep tussen die maag en die ingewande te help voorkom.

•Lig die koppenent van Baba se wiegie of matras – gebruik liefs ’n kussing onder die matras as onder Baba se kop.

•Oorweeg om na ’n spesiale refluksvoorkomende melkformule oor te slaan as die probleem voortduur en Baba nie meer geborsvoed word nie. Jy kan ook ’n verdikkingsmiddel by die melkformule voeg.

•Verminder suiwel- en graanprodukte in jou dieet drasties indien jy borsvoed.

•Sulke babas het omtrent altyd ’n sogenaamde “sensitiewe” maag, maar die probleem bedaar gewoonlik aansienlik teen ’n jaar.

•Dit mag help om vroeër as op die aanbevole ses maande vaste kos te begin gee, maar nie te vroeg nie, aangesien dit in som­mige gevalle bloot die probleem kan vererger of ander probleme soos aller­gieë kan veroorsaak.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх