Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 81

OUERS SE EMOSIES

Оглавление

Ouers in hierdie posisie moet dikwels die moontlikheid in die oë staar dat hul kind dalk nie gaan oorleef nie. Die een dag lyk dinge miskien positief, en net die volgende dag word jy dringend ontbied omdat die mediese personeel vir jou kind se lewe vrees. Niks kan jou voorberei op die gesig van jou eie ou babatjie wat daar in die steriele, meganiese omgewing van ’n neonatale intensiewe eenheid lê, verbind aan al wat ’n lewensondersteuningstelsel is nie. Fisieke aanraking met ’n baie siek vroeggebore baba sal tot die minimum beperk word weens die gevaar van infeksie, hoewel daar deesdae gelukkig besef word dat die teenwoordigheid van ’n ouer, en veral die ma, ’n uiters belangrike faktor in die baba se vordering is. Ek sou ouers aanmoedig om soveel moontlik tyd saam met hul baba (wat ook haar eie skok moet verwerk) deur te bring. ’n Liefdevolle grootouer kan ook help met die waak, en die atmosfeer vul met hoop en ’n persoonlike element.

Voortydige geboorte kan veelvuldige gevolge hê. Jy mag moontlik benewens jou eie siek kind ook met die teëspoed van ander ouers en hul babas gekonfronteer word. Jou hele bestaan gaan deur talle onverwagte wendings beïnvloed word. Jy mag oorweldig voel deur uiterste uitputting, en jy sal waarskynlik een of ander tyd vervul word met woede teenoor die lewe, teenoor God, jou lewensmaat, die mediese personeel en vriende en familie vir wie die ervarings van swangerskap en geboorte met die grootste gemak en sonder komplikasies verloop het. Moenie hierdie gevoelens ontken nie; dit is heeltemal normaal en baie algemeen.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх