Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 85

VERTROOSTING, VERSORGING EN STIMULASIE

Оглавление

•Jy kan die omgewing minder koud en klinies laat lyk deur die kamer met ’n paar sagte speelgoed, kaartjies en so meer op te helder en ’n sagte speeldingetjie naby jou baba neer te sit. Vra vir die personeel wat jy kan bring om die omge­wing meer vertroostend te maak, maar met die minste moontlike risiko van in­feksie en sonder om hulle in hul werk te hinder. Hulle is meestal hiervoor te vinde.

•Aanraking is van wesenlike belang, en selfs al steek daar min van jou baba se lyfie tussen die pype of pleisters uit, moet jy haar so dikwels moontlik streel. Na my mening kan dit ewe belangrik wees vir jou baba se oorlewing en groei as die “pype”. Steek jou hande deur die werkopeninge as jou baba in ’n toe broeikas is. Vra die personeel of jy hom kan vashou, selfs net vir ’n paar oom­blikke op ’n keer, namate sy toestand verbeter. Dit sal vir julle baie beteken.

•Musiek kan net soveel stimulasie verskaf vir jou vroeggebore baba as vir enige ander baba. Speel strelende opnames en sing of neurie vir haar. Dit is natuurlik moeiliker om te doen as sy in ’n toe broeikas is, maar jy behoort iets te kan prakseer met behulp van die moderne tegnologie.

•Gesels ook dikwels met jou baba. Onthou, hy herken jou stem én sy pa s’n! Dit stimuleer jul kind om te weet dat julle naby hom is en omgee.

•Borsvoeding is een van die belangrikste geskenke wat jy vir jou vroeggebore baba kan gee. Begin so vroeg moontlik om borsmelk uit te pomp en probeer veral om jou kolostrum met ’n spuit of buisie vir jou baba in te gee. Dit is nie heeltemal die gewone praktyk nie, aangesien die hoeveelheid redelik klein is en sy daardie eerste paar dae dalk nog geen ander voeding as die aarvoeding kry nie. Gesels nietemin met jou pediater hieroor, aangesien kolostrum vloeibare goud is, propvol heilsaamheid wat jou baba ’n voorsprong sal help gee.

•Dit is belangrik om aan te hou om jou melk uit te pomp om te verseker dat jy aanhou melk produseer, selfs al het sy dit nie dadelik nodig nie. Jy kan jou melk tot 24 uur lank in die yskas bewaar of in gesteriliseerde bottels in die vrieskas bêre. As die situasie ’n aansienlike tyd gaan voortduur, sal jy waarskynlik vind dat ’n borspomp meer prakties is as om melk met die hand uit te pomp. Jy kan kies tussen ’n hand-, battery- of elektriese pomp; die mees geskikte keuse sal van persoon tot persoon verskil. Wees egter versigtig om nie jou tepels te beseer deur te gou ’n te sterk vakuum te gebruik nie.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх