Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 84

WAT OM TE VERWAG

Оглавление

Jy sal dieselfde liggaamlike en gemoedsveranderinge ervaar as ’n vrou wat haar baba enduit gedra het, hoewel jou perineum gouer mag herstel as jy vaginaal geboorte geskenk het. Meer vroeggebore babas word met ’n keisersnee in die lewe gebring, en die gevolge van ’n groot operasie moet ook verwerk word.

Dit is heeltemal normaal om in dié tyd baie eensaam te voel, aangesien niemand anders werklik kan verstaan wat jy ervaar nie. Dit is lewensbelangrik dat jy uit die staanspoor aktief betrokke raak by jou kind se versorging, mits jou ge­sond­heid dit toelaat. Aangesien uiters voortydige geboorte (tussen 20 en 34 weke) ’n noodgeval is, sal die mediese en verpleegpersoneel so besig wees dat hulle moontlik jou ervaring van die situasie uit die oog verloor. Talle dokters en verpleegsters tree egter baie simpatiek op in hierdie tyd; moet dus nie huiwer om indringende vrae te stel oor elke faset van jou baba se versorging en prognose vir herstel nie.

Daar is deesdae ’n inisiatief bekend as buidelsorg (“kangaroo care”) – ’n konsep wat in werklikheid so oud soos die berge is – waar moeders onder sekere om­stan­dighede aangemoedig word om hul babas vel teen vel teen hul bors te dra. Sulke babas groei vinniger, raak minder siek en is baie vroeër gereed om huis toe te gaan.

Een van die eerste emosies wat jy waarskynlik sal ervaar, is ontsteltenis oor die talle “pype” waaraan jou baba verbind is. Onthou egter dat elke pyp ’n lewens­reddende funksie verrig, baie soos die naelstring gedurende swangerskap.

Hierdie pype sluit waarskynlik een of meer van die volgende in:

•’n Aarvoedingsbuis, gewoonlik verbind aan ’n aar in die kop, wat makliker bereikbaar is as dié in die ledemate. Die doel van die buis is om vloeistof, noodsaaklike voedingstowwe en medikasie aan jou kind toe te dien. Moet dus nie geïntimideer voel nie. Dit mag miskien ongemaklik wees om jou baba vas te hou, maar dink daaraan as een van jou belangrikste bondgenote in die stryd om jou kind se gesondheid. Die buis sal waarskynlik van tyd tot tyd verskuif moet word soos nodig, na gelang van die plek of die aar waar dit ingesteek is.

•Jou baba mag moontlik aan ’n ventilator gekoppel wees om hom te help asemhaal. Dit sal miskien vir jou een van die skrikwekkendste aspekte wees, en dit is gewoonlik nie moontlik om jou baba op te tel nie, maar onthou dat dit ’n uiters belangrike buis is wat jou baba aan die lewe hou.

•Daar sal elektrodes aan jou baba se borskas verbind wees om sy hartklop en asemhaling te monitor.

•As jou baba melk kan inneem, sal daar miskien ’n buisie deur die neus gaan, wat met pleister vasgeplak is. Dit loop deur die neuskanaal en keel tot in die maag. Baie vroeggebore babas is nog nie sterk genoeg om te suig nie en sou sodoende kosbare energie verspil. Die situasie sal mettertyd verbeter en dan sal jou baba geleidelik al hoe meer deur die bors of bottel gevoed word en minder deur die buisie tot in die maag.

Die gepiep van monitors sal aanvanklik miskien intimiderend wees. Die alarms gaan soms per ongeluk af, of bloot as waarskuwing aan die personeel om een of ander aspek na te gaan – moet dus nie skrik as jy dit hoor gebeur nie. Vind uit watter monitor watter funksie registreer; dit sal die vrees wat jy dalk ervaar, verminder.

Die broeikas waarin jou baba heel moontlik lê, het verskeie funksies: dit kan ’n oop eenheid wees, gewoonlik in die hoësorgafdeling, of ’n toe, meer konvensionele broeikas. Dit verskaf ’n praktiese werkruimte vir die personeel en ’n beheerde temperatuur- en suurstofomgewing vir jou baba. Die broeikas dien as ’t ware as plaasvervanger vir die baarmoeder. Konsentreer liefs op hierdie aspek as om dit as iets te beskou wat jou van jou baba skei. Jy sal steeds jou baba deur verskeie “patryspoorte” kan aanraak en streel.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх