Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 70

Toptien trooswenke

Оглавление

As niks help om Baba te kalmeer nie en ’n bose kringloop van spanning tussen jou en jou kleinding begin opbou wat jou laat wonder waar alles begin het: by jou spanning of Baba se ongelukkigheid, is dit tyd om afstand te kry en hierdie eenvoudige, maar doeltreffende wenke te beproef. Een van hulle sal beslis jou baba – en jou senuwees! – laat bedaar.

•Sus jou baba. Sus is deesdae uit die mode omdat ma’s so dikwels vertel word dat dit slegte gewoontes sal kweek, en tog bly dit maar een van die heel beste maniere om ’n ontstelde baba te troos. Terwyl jy swanger was, het jy hom in jou bekkenwiegie gesus. Selfs volwassenes troos hulself met ritmiese wiegbewegings wanneer hulle pyn of angs ervaar. Susbewegings kan verskeie vorms aanneem: ferm maar ligte kloppies, op die plek vorentoe en agtertoe stoot in die stootwaentjie, op jou skoot op en af bons of heen en weer wieg in jou arms. Moenie jou aan kritiek steur as dit vir jou en jou baba werk nie. Neem enige moontlike aanleidende faktore – emosioneel of fisiek – in heroënskou as Baba se nood nie mettertyd verlig word nie.

•Bad saam met jou baba. Selfs al geniet sy oënskynlik nie haar badtyd nie, sal ’n ontstelde kleinding nie sommer ’n geborge omhelsing in Ma se arms in ’n diep, warm, geurige bad water versmaai nie. Demp die ligte en drapeer ’n waslap oor haar vir ’n gevoel van ekstra veiligheid indien nodig. Voed haar in die bad of neurie bloot ’n wiegeliedjie tot jy haar lyfie voel ontspan.

•Masseer hierdie sleutelpunte. Die meeste ontstelde babas reageer besonder goed daarop as jy die punt tussen die wenkbroue en langs die slape met ligte sirkelbewegings van jou wysvingers masseer. ’n Ander moontlikheid is ’n op-en-af-beweging agter die ore, en sirkelvormige bewegings oor die borsbeen tussen die tepels of ’n vingerbreedte onder die naeltjie. Moenie jou hand oor Baba se gesig druk wanneer jy die punt tussen die wenkbroue masseer nie; werk eerder van die voorkop af.

•Gaan stap met Baba. Dalk wonder jy vererg waar jy miskien die energie vandaan moet kry hiervoor? Onthou dat ’n wandeling jou beproefde senuwees én jou baba se onrustigheid sal streel. Beweging, veral ritmiese beweging wat nie op ’n spesifieke doel ingestel is nie, is terapeuties vir liggaam en gees. Of dit nou die tydsverloop is wat ’n knieserige baba troos of bloot die geleentheid om die wêreld dop te hou, die resultate spreek vanself. En julle put boonop albei voordeel daaruit.

•Dans met jou baba. Wat maak dit saak as jy nie ’n voordanser is nie? Dans is pret, en pret is een van die beste ontspanningstegnieke. Kies musiek waarvan jy hou en wat jou voete laat jeuk. Jou baba sal die ritmiese beweging geniet en jou beloon met ’n uitdrukking van algehele bewondering. Jy sal ook self ontspan en die ervaring geniet.

•Borsvoed jou baba. Een van die beste maniere om ’n huilende baba te troos, is om hom aan die bors te sit. Daar daal so te sê oombliklik vrede oor die huis en almal kan ’n sug van verligting slaak. Hou net ’n paar punte in gedagte. Voeding behoort nooit in ’n magstryd te ontaard of as ’n maklike uitweg gebruik te word om troos te verskaf nie. Borsvoeding is egter ’n ander saak – dit is meer as bloot voeding. Ma se troos en nabyheid is net so ’n belangrike faset. Solank jy Baba nie herhaaldelik dwarsdeur die dag elke halfuur aan die bors sit of nooit enige ander troosmiddels gebruik nie, hoef jy nie bekommerd te wees nie.

•Gee Baba se voetjies ’n refleksologiemassering. Jy hoef nie ’n kenner te wees nie, hoewel jy dit dalk nuttig mag vind om ’n refleksoloog te vra om jou ’n paar tegnieke te leer. Die meeste babas is dol daarop as jy hul voete vryf, solank jy net nie kielie nie. “Stap” met jou duim oor Baba se hele voetjie. “Tel” dan elke toontjie “op” (trek dit liggies weg van die voet) en draai dit versigtig ’n paar keer in die rondte. Dit is baie ontspannend en gewaarborg om Baba weer te laat glimlag.

•Herinner Baba aan haar tyd in die baarmoeder. Dit kan op verskeie maniere gedoen word. Dra Baba styf teen jou in die eeue oue “abba”-styl of in ’n buidelsak. Speel musiek waarna jy dikwels geluister het toe jy swanger was. Gesels met jou baba sodat sy op die spesiale stem kan fokus wat sy al sedert bevrugting ken. Laat haar op jou maag lê met haar vel teen joune en streel haar ruggie.

•Maak proesgeluide teen Baba se maag. Plaas jou ontspanne lippe weerskante van Baba se naeltjie en maak proesgeluide. Dit is ’n kielierige gevoel, maar dit laat die meeste babas kraai van plesier. Jy sal miskien eers een van die ander trooswenke moet gebruik om Baba te laat ophou huil voordat jy hiermee begin. Hou op sodra Baba dit nie meer geniet nie.

•Los Baba in ’n bekende, vertroude persoon se sorg. As nie een van hierdie trooswenke vir jou en jou baba wil werk nie, is dit moontlik dat die spanningsiklus reeds handuit geruk het. Neem ’n uur lange blaaskans en los Baba by iemand anders. Jy is nie ’n mislukking as ma nie, jy het bloot ’n bietjie af­stand en rus nodig om doeltreffende kommunikasie tussen jou en jou baba te herstel. Moenie jou bekommer terwyl julle nie bymekaar is nie – jou baba sal niks oorkom nie, die lewe sal net effens meer rooskleurig lyk wanneer julle mekaar weer sien.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх