Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 10

7 Januarie

Оглавление

God sal voorsien

Lees 2 Petrus 1:3-11

Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag – 2 Pet 1:3


Deur die geskiedenis heen het God se kinders nog altyd ondervind dat Hy in hul behoeftes voorsien het. By monde van die psalmdigter beloof Hy om sy kinders alles te gee wat hulle nodig het: “Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee” (Ps 81:11). Die Israeliete het met hul woestynreis hierdie belofte elke dag fisiek ervaar toe God vir hulle kos en water voorsien het wanneer hulle dit nodig gehad het.

Aan die begin van ’n nuwe jaar (en veral hier kort ná Kersfees) is ons dikwels bangerig dat ons geld dalk te min gaan wees – veral wanneer ons kan sien dat alles in die winkels oor die vakansietyd duurder geword het. Baie van die ouer mense wat reeds afgetree het, sukkel ook deesdae met hul begrotings omdat die rentekoerse al hoe laer word. Wanneer al hierdie faktore in aanmerking geneem word, wonder ons of ons finansieel die mas gaan opkom.

As jy vanjaar ook oor jou finansies bekommerd is, neem gerus die belofte in 2 Pet 1:3 vir jou rekening: God onderneem om in jou behoeftes te voorsien in die jaar wat voorlê en sy Goddelike krag sal jou alles skenk wat jy nodig het om te lewe en Hom te dien. Hierdie belofte is egter net aan jou adres gerig as jy Hom, wat jou geroep het, ken en dien.

Here, dankie vir die gerusstelling dat U vir u kinders kan en sal sorg, en dat ek ook vanjaar op u belofte kan steun dat U dié dinge wat ek nodig het, in oorvloed vir my sal gee.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх