Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 15

12 Januarie

Оглавление

God ken jou naam

Lees Jesaja 43:1-7

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne – Jes 43:1


God praat hier met sy verbondsvolk – dié volk wat Hy met die hand vir Hom uitgesoek het om Hom te dien. Die hoofstuk gaan oor individue soos ek en jy. God het jou gemaak en Hy ken jou naam – al is daar derduisende miljoene mense in die wêreld, ken God jou persoonlik, weet Hy alles van jou af as jy in Jesus glo. Jou naam is vir Hom só belangrik dat Hy dit in sy handpalms gegraveer het (vgl Jes 49:16), dat Hy dit in die boek van die lewe opgeteken het … (vgl Op 13:8).

God ken jou soos ’n Vader sy kind ken. Nog voordat jy gebore is, het Hy jou reeds op jou naam genoem, skryf die profeet Jesaja (Jes 49:1). Wanneer jy by Jesus se kruis stilstaan en oor sy soenoffer nadink, ontvang jy elke keer God se liefdesbrief aan jou persoonlik: Só lief het Hy jou, dat Hy sy enigste Seun prysgee sodat jý sy kind kan wees.

Dit maak dus nie saak wát met jou gebeur nie; watter rampe jou in die loop van die jaar kan tref nie, as jy aan God behoort, het jy die sekerheid dat Hy jou persoonlik ken en jou vir sy rekening neem. Met só ’n God by jou kan jy die nuwe jaar wat voor jou lê met groot vertroue binnegaan.

Hemelse Vader, dankie dat U my persoonlik, by my naam, ken. Ek loof U dat U my so liefhet dat U spesiaal u Seun gestuur het om in my plek te sterf sodat ek vir altyd aan U mag behoort.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх