Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 12

9 Januarie

Оглавление

Lyding: ’n diensvoorwaarde?

Lees Filippense 1:27-30

God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly – Fil 1:29


Paulus rig hier ’n bra eienaardige boodskap aan die gemeente in Filippi: God gee hulle die voorreg om Christus te dien – nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. Die meeste mense sal lyding beslis nie as ’n “voorreg” beskou nie, maar daar is uitsonderings. Lyding word meermale in die Bybel as voordelig beskou omdat ons, wanneer ons swaar kry, veel nader aan God leef as wanneer alles voor die wind gaan. “Swaarkry is die vrugbare grond waarin God elke Christen oorplant wat moet groei,” lui ’n anonieme aanhaling. Wanneer ’n mens ter wille van jou geloof swaar kry, het jou voorbeeld ’n positiewe uitwerking op ander gelowiges en word jy deur God gebruik om ánder mense nader aan Hom te trek omdat hulle in jou lewe kan sien dat jy getrou aan jou geloof is.

Jy kan ook seker wees, reeds hier aan die begin van ’n nuwe jaar, dat jy nie seerkry en swaarkry vanjaar gaan vryspring nie. Dis nie net onvermydelik in die wêreld nie, maar dit is ook ’n diensvoorwaarde vir ’n Christen! Daar is egter één belofte waarop jy kan staatmaak wanneer dit moeilik gaan: In jou lyding het jy God altyd by jou, sal sy liefde jou omsluit en kan jy op sy krag staatmaak.

Hemelse Vader, ek besef nou dat lyding eintlik een van my diensvoorwaardes as u kind is! Dankie dat ek te midde van swaarkry kan weet dat U my nooit sal verlaat nie en dat u liefde my ook te midde van die lyding sal omvou.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх