Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 17

14 Januarie

Оглавление

Jy is kosbaar vir God

Lees Jesaja 43:4-7

Omdat jy vir my kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe – Jes 43:4


Ons kleindogter het ’n hele familie Barbie-poppe en sy is ewe erg oor elkeen van hulle. Dit maak vir haar geen saak dat sommige poppe die ware Jakob en ander goedkoop namaaksels is nie: álmal is vir haar kosbaar.

Net so is élke kind van God vir Hom oneindig kosbaar – jy ook! In die wêreld waarin ons lewe, word prestasie, rykdom en mag baie hoog aangeslaan. Slegs dié mense wat boaan die suksesleer staan, is werklik belangrik in die samelewing. Maar by God werk dit nie so nie. Elke mens, al is hy in die oë van die wêreld maar nikswerd en onbelangrik, is vir Hom waardevol.

As jy ooit weer met ’n minderwaardigheidskompleks sukkel en meen dat mense jou nie na waarde skat nie, dink ’n slag aan jou waarde in God se oë. Vir Hom is jy só kosbaar dat Hy mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe gee. Vir God het jy ewigheidswaarde – die ewige lewe is joune as jy Jesus liefhet en in Hom glo.

Hierdie feit behoort ’n waardebepaling van jou eie lewe te wees. As dié Skeppergod wat die hemel en die aarde gemaak het en dit elke dag in stand hou jou só hoog aanslaan, kán jy mos nie die mislukking wees wat jy gedink het nie. Met Hom aan jou kant kan jy die nuwe jaar se uitdagings vreesloos tegemoetgaan – want saam met God is jy verseker dat alles vir jou goed sal afloop.

Hemelse Vader, U weet dat ek dikwels maar taamlik nikswerd voel. Dankie vir die belofte dat ek vir U, die almagtige Skeppergod, kosbaar en waardevol is.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх