Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 18

15 Januarie

Оглавление

Waag dit om jouself te wees!

Lees Psalm 139:13-18

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering – Ps 139:13-14


Alhoewel God se kinders goed wéét dat Hy hulle liefhet, ken en dat hulle vir Hom kosbaar is, loop daar steeds ’n verstommende aantal mense met minderwaardigheidskomplekse in die wêreld rond. Miskien is jy een van hulle. Indien wel, is daar een ding wat jy moet besef: God het jou wonderlik gemaak. Jy is uniek en spesiaal. In die hele wêreld is daar niemand anders presies soos jy nie. Waag dit dus om jouself te wees.

Dis nie nodig om te dink soos die wêreld dink nie, om te doen wat die wêreld doen nie. Dit is ook nie nodig om die heersende modeneigings slaafs na te volg as dit jou nie pas nie. Dra waarvan jý hou, waarin jý gemaklik voel. Doen dié dinge wat vir jou lekker is. Hou op om jou te steur aan die menings van ander. Jy hóéf nie soos ander mense te dink, te wees of in die heersende modepatroon te pas nie. Jy kan maar dink wat jý wil, en dra en doen (en eet!) waarvan jý hou. Jy kan dit selfs waag om heeltemal ánders en oorspronklik te wees en jou eie ding te doen. Dit is ook glad nie nodig om jouself oor te maak sodat jy vir ander mense aanvaarbaar kan wees nie. “My business is not to remake myself, but to make the absolute best of what God has made,” sê Robert Browning by geleentheid. Begin vandag om presies dít te doen!

Vader, dankie dat U my wonderlik gemaak het: dat ek nie die heersende neigings of modes slaafs hoef na te volg nie, maar net met vertroue myself kan wees.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх