Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 21

18 Januarie

Оглавление

Luister aandagtig na God

Lees Eksodus 15:22-27

Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf – Eks 15:26


Toe die Israeliete by die Surwoestyn kom, kon hulle vir ’n paar dae geen water kry nie. Toe hulle uiteindelik by Mara aanland, kon hulle die water nie drink nie, want dit was bitter. Oudergewoonte kla hulle by Moses en wil by hom weet wat hulle moet drink. Op die Here se bevel gooi Moses ’n stuk hout in die water sodat dit soet en drinkbaar word.

Met hierdie waterskaarste wou die Here die volk op die proef stel, staan daar in Eksodus 15:25. God het ook baie ernstig met hulle gepraat en hulle gevra om goed na Hom te luister en Hom te gehoorsaam. Dan onderneem Hy om die siektes waarmee Hy Egipte getref het van hulle te weerhou.

Die Hebreeuse teks beteken hier letterlik om met absolute aandag na God se stem te luister. Wanneer God se kinders na sy stem luister, onderneem Hy om hulle te help en te seën. In Deuteronomium 28:1-2 is ’n pragtige belofte vir die nuwe jaar opgeteken: “As jy goed luister na die Here jou God […] sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.” Probeer vanjaar doelbewus om met absolute aandag na God se stem te luister, om te doen wat reg is in sy oë en sy gebooie te gehoorsaam. As jy dít kan regkry, sal sy seëninge jou lewe verryk.

Here, ek wil graag vanjaar met absolute aandag na u stem luister, doen wat reg is en u gebooie nakom sodat ek u hulp en seën in die jaar wat voorlê kan ervaar.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх