Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 16

13 Januarie

Оглавление

Jy hoef nooit weer bang te wees nie

Lees Jesaja 43:1-5

As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie – Jes 43:2


Niemand van ons erken graag dat ons bang is nie, tog is daar talle vrese wat by ons bly spook. In die Ou-Testamentiese tyd was twee van dié bangmaakdinge vuur en water. Sommige dinge wat ons bang maak, is volkome buite ons beheer, soos siekte, onrus, geweld en die dood. Alhoewel ons as mense geen beheer hieroor het nie, verdryf God se teenwoordigheid steeds ons vrese. Bangmaakdinge is nie meer ’n bedreiging as jy God by jou het nie.

In die ergste gevaarsituasies kan jy weet dat God jou nooit sal laat los nie; Hy is altyd daar om jou teen élke gevaar te beskerm. En al sóú jy aangeval, verkrag of selfs doodgemaak word, sal God steeds dáár wees, sal sy hande jou vashou. Hy onderneem om jou deur die doodsvallei te dra tot in die hemel waar jy vir altyd by Hom sal wees.

My man sê graag Christene is nie lewendes op pad na die land van die dooies nie, maar sterwendes op pad na onsterflikheid!

Gaan vertel God gerus vanjaar van al jou vrese sodat Hy hulle vir sy vrede kan verruil.

Hemelse Vader, ek weet nou dat met U by my, ek maar met vertroue van elkeen van my baie vrese ontslae kan raak. Dankie vir die belofte dat U my elke dag van die nuwe jaar sal beskerm.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх