Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 23

20 Januarie

Оглавление

Met Jesus as voorbeeld

Lees 1 Petrus 2:18-25

Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg – 1 Pet 2:21


Petrus praat hier met Christene oor hoe hulle teenoor hul onredelike werkgewers moet optree. Omdat die werknemers vir wie hy skryf uitlanders is, kan hulle nie sommer uit hul werk bedank nie, want dit sou moontlik beteken dat hulle nie langer ’n blyplek óf werk sou hê nie. Petrus vra dat werknemers wat onregverdig behandel word, in Jesus se voetspore moet volg. Hy het sy lyding op aarde só hanteer dat Hy vir elkeen van sy volgelinge wat ná Hom kom ’n navolgenswaardige voorbeeld gestel het van hoe dit gedoen behoort te word.

Die riglyne wat Petrus hier gee, is steeds op hedendaagse Christene van toepassing. Ongelukkig word Christene baie maal ook nie regverdig in die werkplek behandel nie, juis ómdat hulle anders glo en optree as hul werkgewers. Ons moet net soos Jesus maak en in sy voetspore volg, skryf Petrus: Jesus het nie leuens vertel om uit die moeilikheid te bly nie (1 Pet 2:22). Hy het die mense wat Hom beledig het nie terug beledig nie, Hy het nie die mense wat Hom laat swaar kry, gedreig nie, maar Hy was gewillig om alles in die hande van sy Vader te laat (1 Pet 2:23). As jy moontlik vanjaar in jou werkplek te doene kry met ’n onredelike werkgewer wat onmoontlike eise aan jou stel, kan jy hierdie riglyne met groot sukses navolg.

Here Jesus, U weet dat dit nie altyd in my werkplek regverdig gaan nie. Dankie vir die voorbeeld wat U vir my stel. Maak dit vir my moontlik om vanjaar in u voetspore te volg.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх