Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 34

31 Januarie

Оглавление

God gaan voor jou uit

Lees Deuteronomium 31:1-8

Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie – Deut 31:6


Moses se afskeidsboodskap vir die volk bly vir my die heel mooiste nuwejaarsbelofte: Hulle hoef vir niks bang te wees nie, want die Here sal met hulle saamgaan, Hy sal hulle nie in die steek laat of alleen laat nie. Ook Josua se persoonlike boodskap in vers 8 behoort met elke Christen saamgeneem te word op die pad van die nuwe jaar: “Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie.”

God onderneem om vóór jou op die onbekende pad van die nuwe jaar te stap. Jy hoef nie bang te wees vir die onbekende nie, want Hy gaan elke tree van die pad saam – en Hy sal jou nooit in die steek laat of alleen laat nie. Al wat jy hoef te doen, is om Hom elke dag te volg. Dan sal die res van die teksvers vanjaar in jou lewe waar word:

* God sal by jou wees in goeie én slegte tye;

* Jy mag maar onwrikbaar op Hom vertrou, Hy sal jou nooit in die steek laat nie;

* Hy sal jou nooit alleen laat nie; en

* Jy hoef vir niks te skrik nie!

Met só ’n belofte kan jy die jaar wat voorlê met groot vertroue ingaan!

Hemelse Vader, ek neem U nou op u woord. Dankie dat ek nie vir die onbekende pad van die nuwe jaar hoef bang te wees nie omdat ek die versekering het dat U dit vir my sal vooruitloop.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх