Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 25

22 Januarie

Оглавление

Neem die regte besluite

Lees Jakobus 1:2-8

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt – Jak 1:5


“Die verloop van ons lewens hang uiteindelik af van die besluite wat ons neem, en nie van ons gevoelens nie,” sê Derek Prince. Daar is altyd twee kante van jou verhouding met God: dit wat God aan jou beskikbaar stel, en hoe jy daarop gaan reageer. Miskien kan jy nie vanjaar jou omstandighede kies nie, maar jy kan wel kies hoe jy op daardie omstandighede gaan reageer. Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit baie belangrik dat jy reg ingesteld sal wees en dat jy die regte besluite sal neem. Want dit gaan bepaal hoe die res van die jaar vir jou gaan verloop.

Om die regte besluite te kán neem, het jy God se wysheid nodig. Die Griekse woord wat in ons Bybel met “wysheid” vertaal word, beteken eintlik om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Indien jy twyfel of jou besluite reg of verkeerd is, kan jy hulle aan God se Woord toets. Jy mag ook met vrymoedigheid vir God vra om vir jou wysheid te gee indien jy meen dat jy wysheid nodig het, “want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jak 1:5).

Daar is egter één riglyn wat nagekom moet word: ’n Mens wat om wysheid bid, moet gló dat God hom daardie wysheid sal gee. Jy moet gelowig bid en nie twyfel nie, maan Jakobus in vers 6.

Here, vandag wil ek bid dat U vir my wysheid sal gee sodat ek in die jaar wat voorlê met U hulp elke keer die regte besluite sal kan neem.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх