Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 30

27 Januarie

Оглавление

Vrywillige offers

Lees Deuteronomium 16:9-12

“In die mate waarin die Here jou God jou met voorspoed geseën het, moet jy ’n vrywillige offer vir Hom bring” – Deut 16:10


In vandag se teksvers word die fees van die weke beskryf. Sewe weke ná die oestyd moet die volk hierdie fees tot eer van God vier. In dieselfde mate waarin die Here húlle met voorspoed geseën het, moet hulle vrywillige offers vir Hom bring.

God seën sy kinders met materiële seëninge sodat hulle weer op hul beurt ánder mense kan seën wat minder as hulle het. Hoe meer God ons seën, hoe meer oop behoort ons hande en beursies vir mense in nood te wees.

Ongelukkig werk dit feitlik nooit so nie. Elkeen wat al met ’n bussie op die straat gestaan het om geld vir ’n instansie in te samel weet watter mense die meeste geld in daardie bussies gooi: Juis húlle wat dit self nie breed het nie. Waak in die jaar wat kom dat dit ooit van jou waar sal wees dat jy self geseën word, maar ten spyte van God se seën inhalig bly.

God dwing nooit mense om geld vir sy koninkryk te gee nie, maar Hy het ’n blymoedige gewer lief, só skryf Paulus in sy brief aan die Korintiërs (vgl 2 Kor 9:7). God wil nie jou offers hê wat jy teësinnig gee nie, maar as jy bereid is om uit te reik na ander en die seëninge wat jy van God gekry het met ander mense te deel, gaan jy ontdek dat jy nóg meer oorvloedig deur God geseën sal word. Probeer dit gerus!

Hemelse Vader, ek loof U vir u materiële seën in my eie lewe. Gee dat ek ’n oop hart en ’n oop beursie vir ander mense sal hê sodat ek die voorspoed wat U my gegee het, weer aan ander sal deurgee.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх