Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 24

21 Januarie

Оглавление

Met Jesus in jou lewensboot

Lees Matteus 8:23-27

Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

Skielik het daar ’n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap – Matt 8:23-24


Jesus se teenwoordigheid in die klein bootjie op die groot meer maak ’n wêreldse verskil. Tog, toe die storm losbars, slaap Jesus. Dit lyk byna nie asof Hy omgee wat met die dissipels gaan gebeur nie. Hulle weer, beoordeel hul kanse op oorlewing in menslike terme. Daar het geweldige storms op die See van Galilea opgekom, en so ’n storm kon werklik lewensgevaarlik wees. Die dissipels is dus met reg bang in die klein bootjie op die onstuimige see.

Maar toe hulle Jesus wakker maak, verander hul situasie soos handomkeer. “Here, red ons! Ons vergaan!” roep hulle. “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” wil Jesus weet. Dan praat Hy met die wind en die see – en die storm bedaar onmiddellik.

Mense wat vanjaar vir Jesus in hul lewensboot het, hoef geen storms te vrees nie. Sy teenwoordigheid in jou lewe maak die verskil tussen lewe en dood; krisis en vrede. Wanneer Hy in jou lewe teenwoordig is, kan daar niks gebeur wat jou gaan onderkry nie, wat jy nie saam met Hom sal kan hanteer nie. Indien daar wel krisisse in jou lewe opduik en dit vir jou lyk asof Jesus onbetrokke is, moet jy maar net bly glo en bid – Hy sal altyd sorg dat die storms in jou lewe bedaar. Sorg net dat jy nie ’n enkele dag van die nuwe jaar sonder Hom ingaan nie.

Here Jesus, dankie vir die versekering dat U in my lewensboot teenwoordig is, en ek dus vir geen storm hoef bang te wees nie. Help my op dié dae wanneer my geloof min word.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх