Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 37

1 Februarie

Оглавление

Wees lief vir jou man!

Lees Hooglied 8:5-10

“Hou my teen jou soos die seëlring op jou bors, soos die seëlring aan jou arm. Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur” – Hoogl 8:6


As jy vir jouself ’n punt uit tien vir jou huwelik moet gee, wat sal dit wees? Elke vrou behoort bereid te wees om haar man met passie en entoesiasme lief te hê en dit vir hom gereeld te sê én te wys. ’n Mens kán manjifiek lewe as jy weet hoe om te werk én hoe om lief te hê, sê Tolstoi.

Die beste huwelike is dié waarin twee huweliksmaats bereid is om hulle absoluut aan mekaar te “commit” – waar daar weliswaar soos in alle huwelike ook gereelde dikmondstiltes of selfs koue gevegte plaasvind, maar waar egskeiding nooit eers ’n oorweging is nie omdat albei huweliksmaats bereid is om alles in te sit om hul huwelik te laat werk. Sulke huweliksmaats neem hulle van dag tot dag voor om die vuurtjie van hul liefde aan die brand te hou, alhoewel dit nou nie elke dag ewe hoog brand nie! “Om op enige terrein suksesvol te wees, vereis entoesiasme. Kortweg, vir ’n lewe van balans is ’n bietjie passie by die werk én by die huis noodsaaklik,” skryf Alan Loy McGinnis in sy boek Balans in die lewe.

Begin sommer vandag om jou man weer, soos in die dae toe julle nog verloof was, met passie en entoesiasme die hof te maak. Jy gaan verseker ontdek dat hy by daardie passie en entoesiasme gaan aansteek en dat jou huwelik ’n wonderlike inspuiting gaan beleef!

Here, vergewe my dat ek soms so belangeloos teenoor my man optree. Help my om hom soos met ons wittebrood weer met passie en entoesiasme lief te hê.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх