Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 32

29 Januarie

Оглавление

Gee ag op die woorde van die Here

Lees Spreuke 16:20-24

Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed – Spr 16:20


Ons is steeds met voorspoed besig! In God se Woord word baie voorwaardes vir mense gegee wat graag voorspoed wil beleef. As jy ag gee op die woorde van die Here, sal jy voorspoed geniet, en indien jy op die Here vertrou, sal dit met jou goed gaan, belowe die Spreukeskrywer. Tog sal jy waarskynlik kan getuig dat hierdie teks nie altyd werk nie. Soms gebeur daar slegte dinge met die Here se kinders. Miskien moet ons groter klem lê op gehoorsaamheid, want voorspoed en gehoorsaamheid gaan baie keer hand aan hand. “As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was, sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het, so onkeerbaar soos ’n rivier, soos die golwe van die see,” sê die Here vir sy volk by monde van die profeet Jesaja (Jes 48:18). Israel het male sonder tal ondervind dat hul voorspoed in teenspoed verander het sodra hulle ongehoorsaam aan die Here was en Hom vir afgode verruil het.

Wil jy graag vanjaar voorspoed belewe? Maak dan jou verhouding met die Here reg. Neem ’n wilsbesluit om vas op Hom te vertrou, sy Woord en gebooie te gehoorsaam. Selfs al sal élke dag nie vir jou voorspoed bring nie, kan jy daarop reken dat Hy te midde van teenspoed steeds by jou sal wees sodat Psalm 112:7 vir jou waar sal word: “Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.”

Hemelse Vader, help my om vanjaar op u woorde ag te slaan en u gebooie te gehoorsaam, om so vas op U te vertrou dat ek selfs nie eers slegte tyding sal vrees nie.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх