Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 38

2 Februarie

Оглавление

Wees getrou aan jou man!

Lees Hebreërs 13:1-6

Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom – Heb 13:4


In die wêreld waarin ons lewe het buite-egtelike verhoudings so alledaags geword dat dit byna nie meer ’n wenkbrou laat lig nie. “Sleutelpartytjies” (waar huweliksmaats vir die nag omgeruil word) en dinge soos rondslaap en egbreuk is aan die orde van die dag. Een uit drie huwelike in Suid-Afrika eindig in die egskeidingshof. En dit is beslis nie wat God se bedoeling met die huwelik was nie. Hy het bedoel dat die huwelik ’n blywende verbintenis sou wees tussen één man en één vrou waarin daar geen plek vir ’n derde persoon is nie.

As jy jouself sal voorneem om kom wat wil, getrou aan jou man te bly, is die saak al halfpad gewonne. Daar gaan waarskynlik tye kom dat jy wel tot iemand anders aangetrokke gaan voel. Dit is natuurlik. Maar jy moet nooit aan hierdie gevoelens van toegeneentheid tot ’n derde persoon toegee as jy reeds getroud is nie. So ’n buite-egtelike verhouding kan dalk op kort termyn opwindend klink. Maar dink gerus watter gevolge dit vir jou huwelik en gesin op die lang duur gaan inhou. Pas te alle tye selfdissipline toe, en onthou dat jou gevoelens nooit ’n aanduiding is van hoe jy moet optree nie. Neem God se Woord as jou riglyn: respekteer jou huweliksband en moenie rondflankeer nie – die Bybel verseker jou dat God self sal afreken met mense wat rondslaap of seksueel verkeerde dinge doen.

Hemelse Vader, ek bid dat U dit self vir my moontlik sal maak om absoluut getrou te wees aan die man met wie ek getroud is. Help my om alle versoekings wat oor ons huwelikspad kan kom met u hulp te weerstaan.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх