Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 33

30 Januarie

Оглавление

God seën jou

Lees 1 Kronieke 4:9-10

Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het – 1 Kron 4:10


In dié oorbekende gebed van Jabes, vra hy dat God sy seën oor hom sal uitstort, sy grondgebied meer sal maak, hom sal beskerm en onheil van hom sal weerhou. Ons teksvers vertel dat God die gebed van Jabes verhoor het.

Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit goed om God vir sy seën in jou lewe te vra. Dit is die enigste manier hoe jy sal weet dat alles wat jy gaan doen uiteindelik reg sal uitwerk. Seën beteken om God se liefde en guns in jou lewe te ervaar sodat Hy jou elke dag met sy liefde sal omvou en jy sy onverdiende genade sal kan raaksien in elke goeie ding wat oor jou pad kom. ’n Mens kan kwalik vir iemand anders iets mooiers vir die nuwe jaar toewens as God se seën op alles wat hy gaan aanpak.

Ek wil vir jóú God se seën toebid op alles wat jy vanjaar gaan aanpak. Mag jy die rykdom van God se genade elke dag in jou lewe ervaar. Onthou net dat God se seën verantwoordelikheid vir jou meebring. Indien God jóú seën moet jy weer vir ánder mense tot seën wees. Dan sal jy vanjaar ’n positiewe verskil maak in die plek waar jy woon en sal almal wat jou ken, gelukkiger mense wees.

Here, ek kom bid dat U vanjaar u seën oor my sal uitstort. Maak dit vir my moontlik om weer vir ander mense tot seën te wees sodat ek ’n positiewe verskil in die wêreld sal maak.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх