Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 40

4 Februarie

Оглавление

Bewondering en vertroue

Lees Spreuke 31:10-28

’n Knap vrou is baie werd […] Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar – Spr 31:10-11, 28


Hierdie Bybelhoofstuk is geskryf in ’n tyd toe vroue byna nie gereken is nie en ook geen regte gehad het nie. Die Spreukevrou was haar tyd ver vooruit – sy was selfstandig, selfversorgend en intelligent. Daar was ook ’n besondere verhouding tussen die Spreukevrou en haar man. Ons lees hier dat hy haar bewonder en op haar staatgemaak het.

Daar is veral twee eienskappe wat ’n huwelik laat floreer: bewondering en vertroue. As jy vir jou man wys dat jy hom steeds bewonder en vertrou, sal die liefde tussen julle van jaar tot jaar toeneem. As jou man aan jou optrede kan sien dat jy hom nie werklik vertrou nie, gaan hy baie meer geneig wees om onbetroubaar op te tree. Laat hom toe om soms alleen saam met sy vriende uit te gaan sonder om hom elke oomblik op te pas. En vertel tog gedurig vir hom hoe spesiaal hy vir jou is! In sy boek His Needs, Her Needs skryf Willard F. Harley ’n man se vyf belangrikste behoeftes wat hy in sy vrou soek, is seksuele bevrediging, ’n speelmaat, aantreklikheid, huislike versorging en bewondering. Jou man soek dus doelbewus na jou liefde en bewondering – gee dit vir hom en sorg sommer ook dat jul kinders dit sien. Dit gaan vir seker die wêreld se goed vir jul huwelik doen.

Here, ek is so geneig om my man te kritiseer pleks van hom te bewonder en te vertrou. Baie dankie dat U vir my ’n man gegee het wat my vertroue en bewondering verdien. Help my om dit van nou af vryelik vir hom te gee.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх