Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 27

24 Januarie

Оглавление

God maak jou voorspoedig

Lees Esegiël 34:25-31

Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is […] “julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God,” sê die Here my God – Eseg 34:30-31


In die Ou Testament word daar ’n voorwaarde gestel as God se volk voorspoed wil ervaar: Hulle moet besef God is by hulle om hulle te help, by te staan en te seën. Hulle moet ook onderneem om sy gebooie te gehoorsaam en sy verbond na te kom. Wanneer God vir Moses by geleentheid vertel dat Hy nie langer kans sien om saam met die ongehoorsame volk te trek nie, weier Moses summier om ’n tree sonder die Here te versit. Moses sê: “Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde” (Eks 33:16).

Die andersmakende faktor in Israel se bestaan was die God wat hulle aanbid het. Ook jy het vir God in jou lewe nodig as jy vanjaar voorspoed wil ervaar. As jy daardie andersmakende faktor in jou eie lewe het, mag jy vanjaar op God se seën reken, kan jy vir seker weet dat Hy elke dag van die nuwe jaar by jou sal wees om vir jou te sorg. As dit van jou waar is, kan jy maar die onsekerhede van die nuwe jaar met groot vertroue tegemoetgaan. Jy het tog al dikwels in die verlede ondervind dat die Here jou gehelp en vir jou voorsien het – Hy belowe om dit ook in die jaar wat voorlê te doen.

Hemelse Vader, dankie vir die versekering dat U in my lewe teenwoordig is. Help my om U te gehoorsaam, te dien en lief te hê, en maak my asseblief voorspoedig in die jaar wat voorlê.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх