Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 29

26 Januarie

Оглавление

Gun ander hul voorspoed

Lees Spreuke 11:25-31

Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is – Spr 11:25


Christene behoort lig te loop vir die groenoog-monster. Dit is maklik om jaloers te raak as dit vir jou lyk asof almal óm jou meer voorspoedig as jyself is. Des te meer as dié voorspoedige mense nie eers Christene is nie! Dis eweneens moeilik om tevrede te wees met die stokou motor in jou motorhuis as jou buurman met ’n blinknuwe Duitse model by jou verby flits.

Indien jy soms jaloers op ander is, is jy beslis nie alleen nie! Selfs Dawid, die “man na God se hart”, het in hierdie strik getrap: In heelparty psalms kla hy oor die voorspoed van die goddeloses. Ook Asaf skryf in Psalm 73:3: “Ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien.” Tog is die voorspoed van ongelowiges maar van korte duur en kan dit nooit opweeg teen die hemelse voorspoed wat daar vir God se kinders wag nie.

“Afguns is om ander mense se seëninge te tel, pleks van jou eie,” sê Charles Colton. As jy weer in die versoeking wil kom om op ánder mense se voorspoed jaloers te raak, dink liewer aan al die seëninge wat God reeds aan jóú toevertrou het, en sê vir Hom dankie daarvoor. Kyk ook of jy nie vir iemand ánders goed kan wees nie. Daarna kan jy doen wat die wyse Spreukeskrywer jou aanraai: Gun ander mense hul voorspoed, dan sal jy self oorvloed hê.

Here, vergewe my dat ek so maklik jaloers raak op mense wat meer as ek het. Maak my eerder dankbaar vir alles wat U vir mý gee, en help my om ander mense hul voorspoed te gun sodat ek self oorvloed kan hê.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх