Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 41

5 Februarie

Оглавление

Eerbied en liefde

Lees Efesiërs 5:21-30

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad […] het – Ef 5:21-22, 25


Paulus se oproep tot onderdanigheid laat menige selfstandige, moderne vrou met ’n tikkie verontwaardiging. Ons is immers net so goed (of beter) as enige man! Maar die onderdanigheid waarvan hier gepraat word, het niks met baasskap en oorheersing te make nie. Onderdanigheid in die huwelik behoort geskoei te wees op die voorbeeld van die verhouding tussen Christus en sy kerk.

Paulus se motivering vir hierdie oproep aan die gemeente in Efese is dan ook “eerbied vir Christus”. Wanneer ons onderdanig aan mekaar is omdat ons vir Christus eerbied het, raak hierdie oproep tot onderdanigheid ’n vanselfsprekende voorreg vir twee Christen-huweliksmaats. Net wanneer God aan die stuur van jou huwelik staan, het daardie huwelik die regte fondament. Dit is God wat aan die man die leiersrol in die huwelik toeken, en dit is ook Hy wat van die vrou verwag dat sy vrywillig hierdie leiersrol van haar man sal erken. As jy swaar sluk daaraan, weet dat jou man nog ’n veel moeiliker opdrag gekry het: Hý moet jou liefhê met dieselfde liefde waarmee Christus sy kerk liefhet – ’n onselfsugtige, opofferende liefde wat nie eers vir die dood terugdeins nie. Eerbied en liefde is slegs ’n paspoort tot huweliksgeluk as dit gemunt is na die model van Jesus se liefde vir sy kerk, dus God se liefde vir ons.

Here, maak dit vir my moontlik om uit eerbied en liefde vir U aan my man onderdanig te wees en sy leiersrol in ons huwelik te eerbiedig.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх